Mokopane: Booswigte vasgtrek na mislukte roofpoging
Die personeel van F&H Mega Café is vroeg Dinsdagoggend ingewag op die besigheidperseel deur vier gewapende misdadigers.
MOKOPANE – Die besigheid is in Jaco Mari-gebou in Retiefstraat en Urban Africa Sekuriteit se kantore is in dieselfde gebou geleë.
Raynardt Robberts van Urban Africa sê hy het buite gestaan toe die personeel Dinsdagoggend voor 08:00 die deure van F&H Mega Café oopsluit. “Kort na ek in die kantoor gekom het, het ek ‘n lawaai en geskree hoor. Ek het uitgehardloop toe sien ek vier verdagtes uit F&H Mega Café hardloop. Ek het in my bakkie gespring en hulle agterna gesit. Robberts sê volgens die personeel was die verdagtes reeds binne die besigheid en het die personeel ingewag. “Die geskree het die verdagtes skrik op die lyf gejaag en hulle het gevlug.”
Robberts vertel hy het een verdagte wat gewapen was met ‘n 9 mm pistool, in die oop veld oorkant die Mogalakwena Munisipaliteit vasgetrek.
“Intussen het Suricat Sekuriteit en Special Operations Solutions (S.O.S) ook opgedaag en agter die drie verdagte aangejaag. Rassie Erasmus, Reaksie-offisier van Suricat Sekuriteit, sê hy en nog twee van sy kollegas, Jakob Kgase en Elvis Nkosi, het die tweede verdagte in ‘n huis se erf op die hoek van Van Heerden- en Van Riebeeckstraat vasgetrek. Martin van Eck, Reaksie-offisier van S.O.S sê die derde en vierde verdagtes het hy op die hoek van Kruger- en Van Heerdenstraat in ‘n erf gevang.
“Die verdagtes is aan die polisie oorhandig.”

Sersant Irene Masingi, Woordvoerder van Mokopane polisie sê die bestuurder van F&H Mega Café het Dinsdagoggend oopgesluit en was verbaas om ‘n onbekende man binne die besigheid aan te tref.
“Die verdagte het hom met ‘n vuurwapen aangehou terwyl ‘n tweede verdagte met ‘n mes sy verskyning gemaak het en die bestuurder op die grond vasgedruk het. Die bestuurder het begin skree en albei verdagtes het van die toneel gevlug met ‘n bondel sleutels, insluitende die kluis se sleutels.”
Masingi sê die polisie is na die toneel ontbied waar vier verdagtes tussen die ouderdomme van 35 en 42 gearresteer is.
“In die besit van die verdagtes is die volgende items gevind: Baby Brown 9 mm pistool, 10 lewendige rondtes en ‘n groen buffalo mes gemerk SST. Dié verdagtes sal binnekort in die Mokopane landdroshof verskyn op aanklagte van besigheidsinbraak.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za




