PHS skud vere reg vir Kardoesie 2019
Sedert die skole Dinsdag vir die derde kwartaal heropen het, is daar daagliks ‘n gedreun op Hoërskool Pietersburg (PHS) se terrein soos die grade hard aan die oefen is vir Kardoesie 2019 wat Dinsdagaand op die skool se rugbyveld aangebied word. Die graad 12-leerders sal vanjaar moet uithaal en wys as hulle op hul derde …

Sedert die skole Dinsdag vir die derde kwartaal heropen het, is daar daagliks ‘n gedreun op Hoërskool Pietersburg (PHS) se terrein soos die grade hard aan die oefen is vir Kardoesie 2019 wat Dinsdagaand op die skool se rugbyveld aangebied word.
Die graad 12-leerders sal vanjaar moet uithaal en wys as hulle op hul derde agtereenvolgende oorwinning van verlede jaar wil voortbou.
Kardoesie is ‘n sêrrie-kompetisie en is vanjaar reeds 51 jaar deel van PHS se trotse tradisie. Die trofee is ‘n pop wat in 1968 deur Heila Genis aan die skool geskenk is. Die kompetisie word uitgespook tussen die onderskeie grade volgens vasgestelde riglyne tydens ‘n byeenkoms op die skool se rugbyveld.
Kardoesie se lewensgrootte ewebeeld in die vorm van ‘n tweede gelukbringer vir die skool is ook tydens verlede jaar se kompetisie aan die skool bekendgestel.
Genis en die hoofseun van 1968, Piet Swanepoel het verlede jaar saam feesgevier. Die skool se skakelbeampte, Elmari Craig, sê vanjaar se kompetisie sal oudergewoonte vir groot opwinding sorg wanneer die onderskeie grade mekaar met sang en dans die stryd aansê.
Kaartjies kos R20 per persoon en R50 vir ‘n kaartjie om op die skoolterrein te parkeer. Kaartjies is reeds sedert gister (Woensdag) by die skool se ontvangs beskikbaar.
Craig sê besoekers kan vanaf 17:00 op die rugbyveld bymekaarkom en moet hul eie stoele saambring. Komberse en warm klere word ook aanbeveel. Drink- en eetgoed sal te koop aangebied word.
Vir inligting skakel die skool by 015 297 3201.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



