Graad 11s wenners van Kardoesie 2019
Hoërskool Pietersburg (PHS) se graad 12-leerders het sedert verlede week hul tande geslyp om vanjaar met die louere tydens Kardoesie weg te stap, maar beoordelaars se besluit was Dinsdagaand in die guns van die graad 11-leerders wat hul tema, Op die oorlogspad, die beste uitgebeeld het. ‘n Groot skare mense het oudergewoonte met kampstoele, komberse …
Hoërskool Pietersburg (PHS) se graad 12-leerders het sedert verlede week hul tande geslyp om vanjaar met die louere tydens Kardoesie weg te stap, maar beoordelaars se besluit was Dinsdagaand in die guns van die graad 11-leerders wat hul tema, Op die oorlogspad, die beste uitgebeeld het.
‘n Groot skare mense het oudergewoonte met kampstoele, komberse en dik baadjies die koue op die skool se rugbyveld aangedurf om nie vanjaar se kragmeting tussen die graadgroepe mis te loop nie.
Benewens die graad 11-leerders se algehele oorwinning het hulle ook met drie ander toekennings weggestap nadat die beoordelaars hulle benoem het as die graad met die beste dirigente, beste kreet en beste dissipline.
Die graad 8-leerders het nie teruggehou met hul tema, Medical Madness, nie en gewys dat daar met hulle rekenskap gehou moet word nadat hulle as algehele naaswenners aangewys is en die toekenning ontvang het vir die oorspronklikste tema.
Die graad 10-groep was derde met die tema, Formule 1 terwyl die matrieks met die tema, Astronauts, die vierde plek behaal het. Die graad 9-leerders was onder aan die puntelys met die tema, Bikes and Babes.
Die aand is oudergewoonte gekenmerk deur eenvormige bewegings, lewendige musiek en vlugvoetige danspassies deur leerders en dirigente op die pawiljoen.
Kardoesie, ‘n pop wat vanjaar al 51 jaar deel van die skool se tradisie is en as prys aan die wengraad oorhandig word, is verlede jaar in die vorm van ‘n lewensgrootte gelukbringer aan die skool bekendgestel.
Storie en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com