Dié jaar se Limpopo Eisteddfod beoordelaars
Die drama, vokale en instrumentale afdelings van die Limpopo Eisteddfod begin op Maandag, 19 Augustus en eindig op Woensdag, 21 Augustus by skole in Polokwane.
POLOKWANE – Die drama-afdeling sal beoordeel word deur die bekende Mari Weber van Tzaneen. Na haar skoolopleiding voltooi is aan Hoërskool Ben Vorster, studeer sy drama by die Universiteit van Pretoria. Haar eerste werk was as skakelbeampte, maar in haar vrye tyd is sy betrokke by vryskuttoneelwerk.
In 1982 begin Mari ‘n drama ateljee in Tzaneen, waar sy baanbrekerswerk verrig en talle stukke soos monoloë, samesprake en tonele skryf. Sy word in 1991 toegelaat as beoordelaar by die Raad van Afrikaanse Beoordelaars, ‘n liggaam wat hul beywer vir die standardisering van beoordeling by kunswedstryde. In hierdie hoedanigheid beoordeel sy verskeie eisteddfods en kunswedstryde landswyd.
Sy word in 2004 ‘n afstandslektor by die Kollege vir Spraak en Drama (SA), en dien sedert 2010 op die eksamenpaneel van dié instansie.
Die beoordeling van die musiekafdeling sal deur Prof. Theo van Wyk, hoof van die departement UP Kunste; in die fakulteit vir Geesteswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria, behartig word. Theo neem reeds vanaf ‘n vroeë ouderdom klavierlesse en verwerf ‘n BMus graad aan die Universiteit van die Vrystaat.
Gedurende sy studietyd het Theo verskeie toekennings en studiebeurse ontvang. Hy was violis in die Consortium Musicum-strykensemble onder professor Derek Ochse. In 1998 verwerf hy by Unisa die voordraerslisensiaat (UVLM) in orrel. Later verwerf hy ook sy BMus (Hons) en MMus grade aan die Universiteit van Pretoria met lof.
Theo ontvang opleiding as koorleier by bekende musikante soos professor Petru Gräbe (UP) en professor Volker Hempfling (Germany). Hy voltooi sy DMus graad aan die Universiteit van Pretoria.
Hy het verskeie meesterklasse, plaaslik en internasionaal, bygewoon met bekende musikante. Dit sluit in Marie-Claire Alain (Frankryk), Jacques van Oortmerssen (Nederland), Harold Vögel (Duitsland), Daniel Roth (Frankryk) en John Scott (Verenigde Koninkryk).
As orrelis tree Theo plaaslik en oorsee op, onder andere by die Grote Sint-Laurenskerk in Alkmaar (Nederland), Westminster-abdy (VK), Dunblane-katedraal, Paisley Abdy, St Giles-katedraal in Edinburgh (Skotland), Sint-Thomaskerk Vyfde Laan en Grace-kerk Manhattan.
As lektor het hy verskeie werkswinkels aangebied. Theo dien gereeld as beoordelaar vir nasionale en internasionale musiekkompetisies soos die Unisa Oorsese Musiekstudiebeurskompetisie en die SAMRO Oorsese Studiebeurskompetisie. Hy dien verder as eksterne eksaminator vir nagraadse musiekeksamens by UP en Noordwes Universiteit.




