Polokwane laat toe dat Nika groter kan droom
Nika Pienaar was nog altyd ernstig oor sing maar het nooit regtig gedink dat sy haar droom sou kon waar maak nie.
POLOKWANE – Sy is van Mookgophong en vertel dat dié klein plekkie nie altyd mens die kans gee wat jy kry in plekke soos Polokwane nie. Sy het onlangs na die stad verhuis en hoop om haar droom hier te bewaarheid.
Sy vertel dat sy van musiek soos Jazz hou. “Ek hou van musiek wat ligter is want dit laat nie net jou as die sanger nie, maar ook die gehoor op hulle gemak laat voel.” Sy noem dat musiek in haar bloed is, weens die feit dat beide haar ouers in die maak van musiek doenig is. Van haar musiek rolmodelle sluit in Demi Lee Moore en Juanita du Plessis.
As sy nie agter die mikrofoon is nie studeer sy onderwys en sy hoop om haar liefde vir musiek deur haar passie vir kinders en dié beroep uit te leef. “Ek glo die musiekbedryf in Suid-Afrika is iets waar mens regtig ‘n plek kan vind ongeag dit waarvan jy hou aangesien dit ‘n mark is wat heeltyd verander en heeltyd vars bly,” verduidelik sy.
Nika het nie net ‘n pragstem nie, maar kan ook klavier en kitaar speel. “Ek sal nie sê dat as jy wil sing moet jy enige instrument kan speel nie, maar daar is beslis ‘n groot mark daarvoor as jy begin en nog nie jou eie orkes het om mee saam te sing nie. Ek sal aanraai dat jong mense wat wil begin musiek maak en sing kyk na musieklesse om te sien waar hulle stemme inpas,” vertel sy.
Nika tree binnekort op voor ‘n vertoning van Adam Tas en hoop dat dit vir haar die begin van groot dinge kan wees.




