POLOKWANE – Tydens ‘n uitreikaksie na die onkologiesaal by dr. Zirk Jansen, het finaliste van Mnr. en Mej. Heuwelkruin meer geleer oor die uitwerking van chemoterapie asook hoe dié behandeling deur die jare verander en verbeter het.
Francois van Wyk, Elle Sambo, Jordan Machela en Reinhardt Breytenbach is die finaliste wat huis Phobos verteenwoordig. Behalwe vir die gesamentlike projekte, Bergbou en Meals on Wheel, het dié groep besluit om Ngwana Babahuis te ondersteun waar hulle onder andere, die heining kleurvol geverf het, en die onkologie-afdeling waar hulle Chemo Survival Packs opgemaak het.
“Hier is ‘n nekkussing, eetgoed, snesies, lipbalm en ook ‘n boekie wat geskryf is deur ‘n kankeroorwinnaar, Dalene van Wyk, in vir die kankerlyers wat terapie ontvang,” vertel Reinhardt, een van die finaliste. “Ons is opreg dankbaar vir ons borge wat hierdie projek moontlik gemaak het.”
Tydens hul besoek aan die onkologie-afdeling, het suster Petro Grobler hulle meer vertel van waar chemoterapie sy ontstaan gehad het, die uitwerking daarvan op verskillende mense en hoe dit deur die jare verander het.





