"Maak seker dat almal jou leierseienskappe kan raaksien in jou optrede," vertel Johan Boch.
POLOKWANE – Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is ‘n leier ‘n persoon wat lei. Om te lei beteken jy het mense wat jou volg maar hulle volg jou slegs as jy na hulle behoeftes omgee en luister. Review het met die leerders van Pietersburg Laerskool gaan praat wat nie as leiers verkies is vir die nuwe skool jaar nie, om by hulle raad te kry vir die leerders wat wel gekies is vir 2020.
“Vir my is die belangrikste ding wat ‘n leier moet onthou is om saam met almal te werk. Dit sluit in leiers en ook leerders wat nie leiers is nie. Jy kan by almal leer maak nie saak hoe groot of klein hulle is nie,” vertel NJ Coetzee.“Leiers, veral as hulle nuut is, is geneig om te hard te probeer en dit is iets wat ek vir hulle wil sê nie nodig is nie. Julle sal alles leer en kan doen op die regte tyd, wees net geduldig en leer by mekaar,” vertel Ewan Pretorius.“Die leiers moet mekaar motiveer en nie met mekaar baklei nie, anders gaan dit nie uitwerk nie,” vertel Brendon Britten.“Ek dink leiers moet meer uitreik na ander leerders en uit hulle kassies uitklim,” vertel Angelica de Beer.“Al die leiers moet saamwerk as ‘n span. Hulle moet mekaar vertrou en moet mekaar ook vir raad vra,” sê Rico van Niekerk.“My raad aan die leiers is dat hulle net hulle beste gee en om goed te kan lei ongeag waar hulle betrokke is. Jy moet ‘n voorbeeld wees waarna ander leerders en leiers kan opkyk,” vertel Ashley Rheeder.“Leiers moet nie vergeet dat hulle ‘n span is wat moet saamwerk nie. Hulle moet mekaar en die ander kinders met respek hanteer,” sê Sharne Erasmus.