
POLOKWANE – “Ghoempie kom uit Ghoempieland, ‘n maatjie net vir my,” sing Carike Keuzenkamp oor hierdie eienaardige skepsel wat onlangs sy verskyning by Hoërskool Pietersburg gemaak het. Ghoempies is die naam wat PHS se gr. 8-leerders ontvang totdat hulle as volwaardige leerders van die skool gesien word.
Vir dié Ghoempies kan dit ‘n vreemde ervaring wees om by ‘n onbekende plek op te daag en daarom is dit belangrik dat hulle touwys gemaak word oor hoe om in hulle nuwe omgewing, PHS, te oorleef.
Die senior VLR, wat bestaan uit gr. 12-leerders, word met die taak aan die hand gestel en buiten vir al die reëls en belangrike plekke wat met hulle gedeel word, word daar ook tyd gemaak vir speel. Daar word blinddoek legkaart gebou om hulle meer oor die skool se bakens soos die skoolvlag te leer, vasvra gehou om kennis op te doen oor die skool en drie-been sokker gespeel om te leer hoe om saam te werk.




