
POLOKWANE – Min mense hou nie van drukkies nie. Of dit jou nou laat veilig voel of teken van liefde en omgee is, drukkies het ‘n spesiale doel. Daar word internasionaal op 21 Januarie, Drukkie Dag gevier en Review het by Pietersburg Laerskool se gr. 1-leerders gaan hoor wat volgens hulle die belangrikheid van drukkies is.
Hier is hulle top 10 antwoorde:
• Drukkies kan maak dat jy skoenlappers kry as jy iemand soen en drukkies kan ook skoenlappers wegvat as jy bang is.
• As ons rugby speel kan ek my maat ‘n drukkie gee as hy ‘n drie gedruk het of as ons dalk nie wen nie beteken sy hand op my skouer dieselfde as ‘n drukkie en ek weet alles gaan reg kom.
• As jou maatjie huis toe moet gaan voel julle altwee beter na ‘n drukkie.
• Drukkies is hallo sê, groet asook nagsê.
• Drukkies laat mens warm kry en veilig voel.
• Drukkies is soos medisyne wat help as jy siek is.
• Drukkies is om vir ‘n hond of kat te sê jy is lief vir hom aangesien hulle nie Afrikaans verstaan nie.
• Drukkies van mamma en pappa af na ‘n toets beteken ek het goed gedoen, dit sê geluk.
• Drukkies is ‘n manier om vir iemand te sê alles sal reg kom sonder dat jy woorde hoef te gebruik en dis iets wat jy verstaan in enige taal.
• Drukkies as jy hartseer is, is soos sneesdoekies, dit laat die trane opdroog.




