Pieties tops, Tommies ontvang prestasiebeker tydens interhoër
Twee plaaslike skole, Hoërskool Pietersburg (PHS) en Hoër Tegniese Skool Tom Naudé het tydens Vrydag se interhoër die stad se naam hoog gehou nadat PHS nie net as algehele wenners aangewys is nie, maar ook met verskeie ander trofeë weggestap het terwyl Tommies vanjaar met die prestasiebeker beloon is. Pieties en Tommies het teen hoërskole …

Twee plaaslike skole, Hoërskool Pietersburg (PHS) en Hoër Tegniese Skool Tom Naudé het tydens Vrydag se interhoër die stad se naam hoog gehou nadat PHS nie net as algehele wenners aangewys is nie, maar ook met verskeie ander trofeë weggestap het terwyl Tommies vanjaar met die prestasiebeker beloon is.
Pieties en Tommies het teen hoërskole Northern Academy, Eric Louw, Frans du Toit, Merensky en die gasheerskool van Louis Trichardt meegeding.
Pieties stap nie net weg as algehele wenners nie, maar hul seun- en meisiespan word ook as wenners van die dag aangewys. Verder verwerf PHS die pryse vir beste spronge, werpe, naellope, middel- en langafstande en aflosse.
Individuele pryse is ook aan verskeie Pieties toegeken: Niel Smit (junior Victor Ludorum), Cor Muller (senior Victor Ludorum), Chinique Brown (senior Victrix Ludorum en beste senior meisiesbaanatleet), Rinelda van der Linde (beste senior meisiesveldatleet) en Tania Roslee (beste junior meisiebaanatleet).
Op die pawiljoen het Pieties ook gewys waartoe hulle in staat is nadat hulle die trofee vir beste dirigente ontvang het sowel as ‘n tweede plek in die afdeling vir die geesbeker.
Tommies het vanjaar met die prestasiebeker weggestap. Die toekenning word bepaal wanneer die skool se hoeveelheid atlete met hul prestasies vergelyk word. PHS was tweede en Louis Trichardt derde.
Tommies het ‘n totaal van 63 medaljes waarvan 18 goud, 22 silwer en 23 brons, ingepalm.
Met PHS as wenners vir die dag, het atlete die algehele tweede plek vir Merensky gelaat en derde plek vir Louis Trichardt.
Triegies het voorwaar hul beste voetjie voorgesit met die aanbieding van die interhoër. Goed georganiseerd, professioneel en bederf is woorde wat deur beamptes gebruik is om die dag te beskryf.
Louis Trichardt-hoof, Theo Muller het gesê dit is ‘n groot voorreg om atlete, personeel, ouers en beamptes te verwelkom. “Ons skool se verwagtinge is oortref met die aanbieding van die byeenkoms en ‘n genotvolle dag met gesonde kompetisie, wedywering en prestasies het ‘n realiteit geword,” het Muller gesê.
Volgende jaar se interhoër word deur PHS in Polokwane aangebied.
Storie en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com


























