Diereliefhebbers in die knyp: só kan jy help
Diereliefhebbers in die stad het saamgestaan om ‘n projek op die been te bring om huisgesinne wat swaartrek, met hul troeteldiere se uitgawes by te staan.

POLOKWANE – Die grendeltydperk het situasies in mense se lewens laat onstaan waarvan hulle normaalweg nooit sou kon droom nie.
Skielik sit gesinne sonder ‘n inkomste en moet staatmaak op die gemeenskap se goedhartigheid. Baie van hierdie mense het ook troeteldiere wat saam met hulle mensouers swaarkry.
Diereliefhebbers in die stad het saamgestaan om ‘n projek op die been te bring om huisgesinne met troeteldiere by te staan.
Polokwane Troeteldierhulp het in samewerking met die Noodkospakkieprojek ontstaan.
Die Noodkospakkieprojek is ‘n geleentheid waar mense kos koop by Spar Platinum Park en Spar Flora Park (asook by NJ Fresh), dit in ‘n waentjie sit en die organiseerders dit dan uitdeel.
Karina Botha is deel van beide projekte en sy, tesame met ander rolspelers in die dieregemeenskap het besluit om kos vir troeteldiere in te samel. Ander rolspelers sluit in Urban Feral Cats Polokwane, Lucky Paws and Rescue, SA K9 Training and Academy. Pets and Hobbies is die afsetpunt waar alle kos ingehandig kan word.
“Aangesien ons saam met die Noodkospakkieprojek werk het ons reeds ‘n lys van mense wat behoeftig is en nie hulp van die staat af ontvang nie. Ons het besluit om eers die pensionarisse met troeteldierkos te help en daarna die ander mense. Almal op die lys is streng gekeur en ongeag van sy ras en kultuur, as hy hulp nodig het en kwalifiseer, sal hy hulp ontvang,” vertel Karina.
“Dit maak dit maklik aangesien mense sommer by Pets and Hobbies die kos kan gaan koop en afgee. Pets and Hobbies het ook gesê hulle sal help met ‘n skenking. Ons kort enige troeteldier kos, veral honde en kat kos, maar ook kos vir voëls en ander troeteldiere. Mense wat egter inkopies by Spar gaan doen, kan daar ook die troeteldierkos afgee, ons sal dit dan weer versprei.”
Sy verduidelik daar is drie maniere om die projek te help.
“Jy kan kos koop en skenk, of ‘n skenking in die rekening inbetaal, of selfs net die woord versprei.”
Bankbesonderhede:
Rekeningnaam: Tania le Roux
FNB Spaarrekening
Rekeningnommer: 6267 9359 573
Takkode: 250 655
Verwysing: Polokwane Pets
maretha@nmgroup.co.za




