Local NewsNews

Pa-en-seun die sleutel tot hul besigheid se sukses

Ben en Benhard Pretorius is vennote in ‘n dakkonstruksiemaatskappy.

POLOKWANE – Wanneer ‘n pa sy eie besigheid besit, droom hy dikwels daarvan dat sy seun in sy besigheidvoetspore sal volg.

Ben Pretorius het Select Projects, ‘n dakkonstruksiemaatskappy, op 1 Julie 1994 begin. Hy vertel hy wou altyd graag die konstruksiebedryf betree, maar sy pa het ander planne gehad: “’Maar toe ek my kon kry, toe is ek in die konstruksiebesigheid”.

Hy onthou hoe sy seun, Benhard tydens sy kleuterskooljare, gereeld saam met hom in die bakkie rondgery het.

Benhard het na skool ‘n lisensie vir kommersiële vliegtuie gekry, maar na hy vir ‘n tyd by Ben se besigheid uitgehelp het, het hy sommer in 2009 besluit hy gaan aanbly. In 2014 word hy aandeelhouer en vandag is hy ‘n vennoot in dié saak.

“Die lekkerste daarvan om saam met my pa te werk is om tyd saam met hom te spandeer en dit is ‘n voorreg om al die kennis wat hy het, by hom te leer,” vertel Benhard.

Ben vertel dat die samewerking tussen die twee vir hom ‘n gerustheid gee dat iemand wat dieselfde droom as hy het, saam met hom in die besigheidsbootjie is. “Dit gee my ook soveel ekstra tyd wat ek saam met hom kan deurbring. Daar is baie uitdagings. Ek is gebore in ‘n era waar, as jy nie natgesweet en met stukkende hande rondloop nie, het jy nie gewerk nie. Benhard se generasie het ‘n ander benadering. Tegnologie maak die werk makliker,” sê hy.

Benhard sê die grootste uitdaging is om die pa-en-seunverhouding van die sakevennootskap te skei.
“Die werk spoel soms oor huis toe en ook andersom. Dit is ook soms moeilik vir die ouer geslag om te besef die jongeres se besluite het ook meriete. Wanneer ons verskil, raak die verskil nie ‘n kwessie nie, maar ‘n gedeelde uitkyk op ‘n oplossing.”

Ben erken dat Benhard se deelwees van die span hom al telkemale laat tweekeer dink het wanneer ‘n mens soms voel om handdoek in te gooi. Sy raad aan ander ouers en kinders wat ‘n besigheid saam wil betree, is om verpligtinge by die werk af te baken.

“Jou kind moet in elke aspek van die besigheid ervaring opdoen. Ons het ‘n basis van stiptelikheid en eerlikheid waarvolgens ons werk. Ons werk hard en wag op die seën van die Here.”

Pa en seun sien mekaar ook gereeld buite die werksomgewing wanneer hulle tyd saam met die res van die familie, wat ‘n kleinseun insluit, spandeer.

Hulle sien uit om hierdie Vadersdag saam deur te bring.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button