Kyk regstreeks: Virtuele gedenkdiens vir Lizette en Hettie Deacon
‘n Gedenkdiens sal Dinsdag vir die twee vroue, wat verlede week vermoor is, gehou word.

POLOKWANE – Inwoners wat ‘n virtuele gedenkdiens vir Hettie en Lizette Deacon wil bywoon, kan dit doen.
‘n Gedenkdiens word vandag Dinsdag, 15 September om 11:00 by NG Noord gehou, maar hierdie diens is slegs vir familie en nabye vriende en word gehou in ooreenstemming met Covid-19-afsluitingsregulasies. Inwoners kan die regstreekse virtuele gedenkdiens kyk deur op die volgende skakel te klik: Noordgemeente Familie van Omgee YouTube-bladsy.
Lizette en Hettie is Donderdagmiddag in hul meenthuis in Welgelegen aangeval en ontvoer. Nadat ‘n klopjag van stapel gestuur is, het die polisie op die R37 buite die stad op Lizette se voertuig afgekom. Op die toneel het die polisie op die vroue se liggame in die motor afgekom. Albei vroue het verskeie steekwonde opgedoen.
Lees meer: [KYK] Honderde byeen om Lizette Deacon en haar ma te onthou
Twee verdagtes is sedertdien in Mookgophong en Polokwane onderskeidelik, in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting op Dinsdag, 15 September in die Polokwane Landdroshof verskyn op aanklag van moord en huisroof. Een van die mans sal ook op ‘n aanklag ingevolge die oortreding van die Immigrasiewet verskyn. Ander verdagtes is geïdentifiseer en meer inhegtenisnemings word verwag, het Brig Motlefela Mojapelo, polisiewoordvoerder, gesê.




