Local NewsNews

Skolerugby eers dán moontlik hervat

Besluite rondom terugkeerdatums en die veiligheid van spelers is onlangs tydens ‘n virtuele vergadering bespreek.

POLOKWANE – Geen skolerugby-oefening mag tot en met 8 Februarie plaasvind nie.

Hierdie was een van die besluite wat onlangs tydens ‘n virtuele vergadering tussen verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Rugby Unie (Saru) en die Suid-Afrikaanse Skolerugbyvereniging (Sasra) geneem is.

Kwessies soos die impak van die huidige aangepaste vlak 3 inperkingsregulasies en die tweede vlaag Koronavirusinfeksies op die terugkeer na skolerugby in 2021, het ook onder die loep gekom.

Volgens ‘n verklaring wat deur die Voorsitter van Sasra, Noel Ingle, uitgereik is, is daar spesifiek gefokus op hoe beplanning gestruktureer kan word om ‘n gevoel van hoop aan spelers en afrigters te verseker.

“Ons het ook die finansiële impak wat toetsprosedures sal inhou indien wedstryde weer gespeel word bespreek, deur die huidige Curriebeker-toernooi as voorbeeld te gebruik. Die fisieke, emosionele en algemene geestestoestand van spelers en die gebrek aan rugby en die impak wat dit op Saru se hoëverrigtingprogramme het, asook die integriteit van die spel, is verder bespreek,” lees sy verklaring.

Ingle verduidelik dat die volgende konsensus bereik is in terme van skolerugby:

  1. Alle rugbyaktiwiteite is opgeskort, insluitend oefening, tot en met 8 Februarie.
  2. Sasra, met die hulp van SA Rugby, sal die vlak en verspreiding van infeksies van die virus in die land deurentyd monitor tydens die opskorting, asook wanneer oefening en wedstryde mag voortgaan.
  3. Verenigings en skole sal tweeweekliks ingelig word oor die vlaag van infeksies in alle provinsies.
  4. Verenigings en skole sal ingelig word oor wanneer die terugkeer-na-oefening geïmplementeer sal word, sodra daar vasgestel is dat die vlak van infeksies in alle provinsies teruggekeer het na die vorige vlak, wat beteken die tweede vlaag van infeksies is onder beheer.

Ingle noem dat spelers se veiligheid in ag geneem word wanneer oefening weer toegelaat word. Dit word verseker deur die implementering van ‘n gestruktureerde benadering wat twee fases behels:

  • Fase 1: ‘n Minimum van 4 weke van geen-kontak oefening met ‘n fokus op fiksheid en krag.
  • Fase 2: Volg op fase een (indien toegelaat deur die relevante belanghebbendes), ‘n minimum van 4 weke se geleidelike integrasie van kontakoefening.
  • Fase 3: Terugkeer na rugby.

Ingle sê die Departement van Basiese Onderwys het nog geen veranderinge aangedui van dit wat reeds in die Staatskoerant gepubliseer is nie. “Saru en Sasra sal enige verandering wat deur die departemente van Basiese Onderwys en Sport aangekondig word, wat ‘n effek op skolerugby het, deurgee. Dit bly almal se verantwoordelikheid om kinders wat aan die sportsoort deelneem, die kans te gee om dit in ‘n veilige omgewing te doen wat skade beperk en die risiko om onnodige beserings en siektes op te doen, te beperk, aangesien SA Rugby die beherende liggaam van rugby in Suid-Afrika is,” sluit hy af.

Wat amateurrugby betref, het die president van die Blou Bul Rugby Unie, Willem Strauss, aan Review gesê die status quo sal in plek sal bly tot en met 8 Februarie. “Jy mag oefen solank die protokol en riglyne gevolg word. Wedstryde mag egter nog nie gespeel word nie,” voeg hy by.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button