
POLOKWANE – Wiskunde is nie elke kind se maat nie en dikwels moet kinders ekstra klasse neem om die wiskundige konsepte baas te raak. Dit is egter ‘n verpligte vak op skool en Review het met Hoër Tegniese Skool Tom Naudé wiskunderonderwysers, Antoinette Jordaan en Leandré Friedenthal gesels oor dié vak.
Hoe help jy ‘n kind wat regtig sukkel met wiskunde?
Antoinette: Gedagtes beïnvloed jou ingesteldheid. Dit waarop jy fokus gaan jy kry. In my klas mag daar nooit gesê word iets is moeilik nie, leerders mag slegs die woord uitdagend gebruik om huiswerk te beskryf wat hulle nie reg kon kry nie. Om enigiets in wiskunde te doen met ‘n negatiewe benadering as jy reeds sukkel maak dit leerwerk net soveel meer van ‘n uitdaging.
Daar is drie wette wat elkeen in my klas moet toepas.
‘Basics’ – elke som is gebou op sekere basiese beginsels. ‘Ek moet wil’ – jy kan niks doen as jy nie iewers wil begin nie en ‘Wat sien jy? Wat weet jy?’ – As jy die ‘basics’ kan sien kan jy iets doen.
Leandré: Dit hang af hoekom die kind sukkel. As hy sukkel omdat hy agter geraak het, kan hy die Wiskundesentrum gebruik. Hier word spesifieke lesse vir hom gegee om hom te laat werk waarmee hy sukkel. Leerders wat sukkel omdat hulle nie wiskundig aangelê is nie, kort bietjie meer werk en moet die konsepte baasraak deur herhaling. Hulle het ook baie morele ondersteuning nodig. Dan is daar leerders wat aandagafleibaar is en met hulle werk ek van aangesig tot aangesig op ‘n persoonlike vlak.
Is daar meer as een tegniek om wiskunde baas te raak?
Antoinette: Met vandag se integrering van tegnologie is daar is meer as een manier om wiskunde baas te raak. Elke leerder het toegang tot die wiskunde hulp sentrum waar hulle met behulp van video lesse aan hulle probleem areas kan werk. Ek maak gebruik van ‘desmos‘ en ‘Quizizz’ wat op ‘n kompetisie basis die leerders teen mekaar laat deelneem en sodoende op hulle elektroniese toerusting hulle basiese fondasies in te oefen. Origami en Geo-borde is toerusting wat gebruik kan word om die konkrete aspekte van wiskunde op ‘n informele manier vas te lê sodat die abstrakte dan beter sin sal maak.
Leandré: Ek is baie oudskool as dit hierby kom: Oefen, oefen, oefen. Ek sien ‘n definitiewe roete wat ‘n mens moet stap met elke nuwe konsep in wiskunde naamlik ‘verstaan’, ‘doen’ en ‘oefen’.
Verstaan: Volg stappe noukeurig en vra vrae. Let op in die klas en neem deel in die les.
Doen: Gebruik ‘n voorbeeld en werk deur ‘n nuwe soortgelyke probleem, dit behoort makliker te raak met opvolgende somme. Merk en leer uit jou foute. Hierdie stap is ongelukkig waar baie leerders die groot fout maak om te dink as hulle verstaan is hulle oukei, maar om te verstaan beteken glad nie jy kan dit al doen nie.
Oefen: Hier is waar repetisie jou vat van kan dit net-net doen na kan dit gemaklik doen. In toetsomstandighede, waar spanning hoog is gaan ‘net-net doen’ nie altyd vir jou deurbring nie.
Hoe hou jy ‘n kind wat sukkel positief?
Antoinette: Elke leerder in my klas begin met 100%. Wat hy insit met elke toets is ‘n persoonlike besluit. Daar word gesê ‘n mens moet mik vir die sterre, ek het dit ‘n bietjie gewysig na mik vir die maan en as jy hom mis beland jy steeds tussen die sterre. Dit gee vir elke leerder die geleentheid om sy eie doelwitte te stel wat binne hulle vermoëns sal wees. Ek hou daarvan om met speletjies, kleur, films en moontlike alledaagse aktiwiteite in die klas te werk. Ek sal steeds bly by die nodige sillabus maar sal altyd iets probeer inbring wat nodig is om belangstelling te prikkel. ‘n Leerder mag dalk nie van wiskunde hou nie maar hy sal dalk ‘n spesifieke belangstelling hê wat as ‘n aanknopingspunt gebruik kan word vir die verduideliking van ‘n spesifieke afdeling.
Leandré: Jy moet in die kind glo en die kind moet dit weet. En werklik glo, nie net om die kind te probeer motiveer nie. ‘n Mens meet ook nie elke leerder met dieselfde maatstaf nie. Vir sommige leerders is die einddoel net eenvoudig slaag. Al wat vir my belangrik is, is dat elke leerder sy maksimum potensiaal bereik. En dan moet mens die pad saam die leerder stap, saam bly wees oor die suksesse, en die leerder herinner om nie op te gee al was daar ‘n toets wat nie suksesvol was nie.
Hoe verskil die moeilikheidsgraad van wiskunde van dié van 10 jaar gelede?
Antoinette: Die verskil was dat euklidiese meetkunde nie verplig was nie, maar as ‘n opsionele derde vraestel gekies kon word. As ek kyk na die laaste 10 jaar het die moeilikheidsgraad van wiskunde nie verander nie maar die tempo van die hoeveelheid afdelings wat die sillabus dek het ‘n worsmasjien effek begin word. Alle afdelings moet afgehandel word binne ‘n sekere tydperk, sodat die assessering gedoen kan word. Leerders word oorweldig met die tempo wat dan die tyd beperk om vorige werk te hersien.
Leandré: Ek het in 2008 gematrikileer. Die afdeling waarin leerders die meeste sukkel is meetkunde. In daardie tydperk was meetkunde nie verplig nie, dit was deel van vraestel 3 wat opsioneel was om te skryf en ook as ‘n aparte punt op jou rapport verskyn het.
Wat is die mees uitdagendste vir jou van onderwys?
Antoinette: Vanuit ‘n wiskunde oogpunt sou ek se X = Y + Z. Maar die is nie jou normale wiskunde som nie, dit sal die voorstelling wees van my X-generasie wat op ‘n daaglikse basis moet aanpas by die veranderinge in tegnologie waarmee die Y- en Z-generasie kinders grootword. Ek word gereeld uitgedaag om my tegnologiese vaardighede aan te pas.
Leandré: As ‘n kind nie in die klas oplet nie of nie sy huiswerk doen nie, dan is jou hande basies afgekap.
Wat is die lekkerste van onderwys?
Antoinette: Wat vir my die grootste vreugde verskaf is wanneer jy voor die leerders staan en die HUH?-oomblik verander in ‘n AHAA-oomblik. Wanneer my liefde vir wiskunde by ‘n leerder geplant word en die mooiste groei plaasvind wat ontluik in ‘n spog presteerder wat nie noodwendig die nommer een kandidaat in die klas was nie, is dit so kosbaar. Daar is niks wat die trots en vreugde in my hart kan blus nie as leerders na ‘n paar jaar terugkom en voor my klas staan met woorde van dankbaarheid oor die fondasie wat ek vir hulle gelê het, of om net dankie te kom sê nadat hulle graad gevang het, of om net die sukses van hulle loopbaan te kom deel, of om saam met my die wiskunde wêreld van kinders te kan ontsluit.
Leandré: As ek saam die kinders kan lag. Ek dink een ding wat vir ons partykeer bo hou in moeilike omstandighede, behalwe vir die Here natuurlik, of dit nou Covid-19, Eskom of iets is wat die president gesê het, ligter maak is dat daar altyd iemand is wat ‘n grappie daaroor sal plaas. Dan lag ons maar net saam daaroor en kan dan weer op ‘n ernstiger noot deur dit werk. Lag is goed vir ‘n mens se gemoed. wiskunde is baie goed vir ‘n mens se brein, maar nie so goed vir almal se gemoed nie. Alhoewel wiskunde werklik vir my ‘n passie is, dink ek in die groter prentjie is dit maar net ‘n verskoning om tyd met die leerders te kan spandeer. So hoop ek om die klein druppel van my kant af by te dra in die volwassenes waarin hulle in verander. Ek dink wiskunde is eintlik net ‘n instrument wat gebruik word om hulle deursettingsvermoë, self dissipline en denkpatrone te ontwikkel.
Lees meer oor wiskunde in die Review.




