NewsSchools

VitaAmp deel padkos vir die jaar met Pieties

Die ouers het ook die kans gehad om na Johan te luister waar hy oor gesinsbates vir gesonde gesinne uitgelig het.

POLOKWANE – Die sprong van laerskool na hoërskool is ‘n groot een in meer as een opsig. Nie net word die werk aansienlik meer en die druk daarmee saam nie, maar ‘n kind se liggaam verander en hulle weet nie altyd hoe om dit te hanteer nie.

Jaarliks besoek Johan Smith van VitaAmp Hoërskool Pietersburg waar hy met die gr. 8’s ‘n openhartige gesprek het oor wat hulle te wagte kan wees in die hoërskool.

Een van die onderwerpe waaraan hy geraak het, is hoe hulle liggame verander en waarom hulle optree soos wat hulle optree.

“Ek hou nie van die woord ‘tiener’ nie. Ek verkies adolessensie. Wanneer jy in hierdie fase is, is jy besig om iemand te word. Jou brein ontwikkel ongelooflik baie tussen die ouderdom van 12 en 25 en wanneer jy verkeerde dinge, soos rook en drink, doen, belemmer jy jou brein se groei.”

Hy verduidelik verder dat wanneer iemand nie weet wie hulle is nie, probeer hulle allerhande dinge om te ontdek wie hulle is.

“As iemand my vra wie ek is, antwoord ek: ek is ‘n kind van die Here, ek stap agter Jesus aan en ek glo in God die Vader. Hierdie bepaal hoe ek elke besluit in die lewe neem.”

Johan het die verskillende verslawings aspekte aangeraak.

“Verslawing is ‘n groot probleem en uitdaging onder ons hoërskooljeug – verslawing aan nikotien, alkohol, dwelms en te veel skerms en tegnologie.”

Hy het ook kwessies rakende emosionele welstand, depressie en selfdood aangespreek en spesifiek gefokus op die hulp wat beskikbaar is en die “doendinge sou jy depressief voel en donker gedagtes kry”.

“Die syfers en statistiek rondom depressie en selfdood is absoluut skokkend. Dis nodig om ons kinders toe te rus oor wat om te doen indien sulke gedagtes opduik.”

Johan het ook met die onderwysers gesels oor spanwerk en eenheid in ‘n span. “Ons onderwysers steier onder depressie en swak emosionele welstand. Daarom is dit so nodig dat hulle saamstaan en mekaar versterk en inbou in mekaar.”

Die ouers het ook die kans gehad om na Johan te luister waar hy oor gesinsbates vir gesonde gesinne uitgelig het.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button