Polokwane seun in hospitaal na fietsrit
Jonathan Jansen van Vuuren het na wat vermoed word, met sy fiets geval en die gesin samel tans geld in vir sy mediese sorg.
POLOKWANE – Wat ‘n blote pretrit per fiets vir die 17-jarige Johnathan Jansen van Vuuren was, het hom Sondagmiddag in die hospitaal laat beland.
Nadat hy vroeër die middag met sy fiets op die Tweefonteinplotte gaan ry het, het hy egter ‘n ruk later by die huis aangekom, sy gesig vol bloed.
Sy ouers het hom dadelik na die hospitaal toe gehaas.
“Ons is nie seker wat gebeur het nie, en hy kan niks onthou nie. Hy het net by die huis aangeloop gekom met sy fiets en sy gesig vol bloed.
By die hospitaal is daar vasgestel dat sy skedel gekraak en sy neus gebreek is, en van sy tande was ook uit, aldus sy ouer broer, Ockert.\

Johnathan is eers na ‘n privaat hospitaal geneem, maar is later na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal geneem.
Laat Maandagaand is hy na die Mankweng Hospitaal oorgeplaas, waar sy wonde in die teater skoongemaak is.
“Hy lyk goed, maar hy is nog baie deurmekaar. Sodra hy terugkom Polokwane toe, sal die dokters die res van sy gesig, soos sy tande en neus regmaak. Ons vermoed hy sal plastiese sjirurgie aan sy gesig moet kry. Hy praat nie en eet ook nie, en ons is oortuig daarvan dat dit is omdat hy baie pyn ervaar,” sê Ockert.

Sy familie het intussen die toneel besoek waar hulle opgemerk het daar is remmerke en bloed op die grond waar Johnathan na wat vermoed word, geval het. Hulle vermoed spoed het ‘n rol gespeel in die oorsaak van sy ongeluk. Die ongeluk het slegs ‘n paar meter van die huis af gebeur.
Johnathan werk by Gas Gorillas en woon by sy ouers.
Die gesin samel nou geld in sodat Johnathan die nodige mediese sorg kan kry.
“Elke sent sal help, ons wil hom net weer sien glimlag.”
As jy ‘n bydrae kan maak, skakel vir Ockert by 064 225 1882.




