Bretsini ‘n paradys vir groenvingers
Brett Hughes het Alpha Kwekery, wat reeds sedert 1998 deur Dana en Retha du Toit besit word oorgekoop, en vandaar het die wiele vinnig gerol.
POLOKWANE – Destyds, in 1985 besluit Besini en Retha Swart om ‘n kwekery in Polokwane te vestig, met die droom om dit ‘n familiebesigheid te maak en besluit op Retsini as die ideale naam.
In 1999 neem Stephnee en haar man, Brett Hughes beheer van die kwekery oor en vandag is die derde generasie reeds besig om hulle kant in die kwekery te bring en sodoende kon die besigheid ook onlangs uitbrei.
Brett, Besini en Retha se kleinseun het Alpha Kwekery, wat reeds sedert 1998 deur Dana en Retha du Toit besit word oorgekoop, en vandaar het die wiele vinnig gerol.
“My pa en Oom Dana het ‘n goeie verhouding en toe Oom Dana in Januarie sê hy beoog om af te tree, het ons besluit om die besigheid te koop. Dit sal egter altyd Oom Dana se plek wees en hy kom loer gereeld nog in,” sê Brett junior, die bestuurder van die kwekery waarvan die naam nou nog ‘n kinkel bygekry het, naamlik Bretsini.
Op 24 Oktober het die kwekery in De Wetrylaan amptelik sy deure oopgemaak en is kliënte begroet deur ‘n yslike groot geel staalmannetjie wat vir kliënte aandui waar om in te draai.
Dié mannetjie is nou pers geverf om by Bretsini en Retsini se beeld te pas.
Brett is bykans 25 jaar oud en is reeds vanaf ‘n jong ouderdom af lief vir plante.
Hy het in 2020 by Retsini begin werk en is in 2022 na Amerika waar hy met blomme en saailinge gewerk het. Met sy terugkeer het hy besluit om plante sy loopbaan te maak en die geleentheid om Bretsini te bestuur met albei hande aangegryp.
“Met die koop van die kwekery het ons die hele span oorgekoop en vir eers hou ons ook alles soos dit is. Ons het wel baie planne vir die toekoms, soos om die ingang te verander en dalk ‘n koffiewinkel oop te maak. Oom Dana het ons mooi gehelp om te begin en sy gewilde stepping stones is ‘n groot deel van die tak.”
Brett het ook die tuindienstedeel van Alpha Kwekery oorgeneem en sorg vir die beste diens vir Oom Dana se bestaande kliënte.
Omdat die eienaars in kwaliteit familietyd glo, is die Retsini en Bretsini kwekerye slegs oop van Maandae tot Saterdae.




