Martinette: ‘Elke dag beter’
Martinette is op 17 Mei opgeneem en moes ‘n noodoperasie ondergaan nadat haar blindederm gebars het.
POLOKWANE – Na net meer as ‘n week in die intensiewesorgeenheid van Mediclinic Limpopo, is Martinette Potgieter (16) weer by haar volle positiewe.
Martinette is op 17 Mei opgeneem en moes ‘n noodoperasie ondergaan nadat haar blindederm gebars het.
Na die operasie is sy onder verdowing in die intensiewesorgeenheid opgeneem waar sy die afgelope week op-en-af dae ervaar het.
Volgens haar ma, Antoinette, gaan dit tans uitstekend met haar.
Martinette het Vrydag definitiewe vordering getoon en kon die dokters haar uit die verdowing bring.
Teen Saterdag was sy by haar positiewe en het reageer op haar familie se stemme, volgens haar ma.
“Hulle het teen Sondagmiddag 16:00 die ventilator afgehaal. Martinette is wakker en praat met ons. Sy is egter nog baie moeg. Ons dien ‘n groot God. Dankie vir almal se gebede. Ons is in baie groot dankbaarheid oor die toestand van haar gesondheid wat so verbeter het sedert Vrydagmiddag. Ons harte is met dankbaarheid gevul as ons hoor hoe daar vir haar gebid word.”
Martinette is ‘n leerling by Hoërskool Pietersburg en haar medeleerders het Saterdag met pink strikkies in hulle hare, ten bate van Martinette, aan die Capricorn Distriknetbalfinale deelgeneem.
Die familie benodig steeds skenkings om die mediese onkoste te dek.




