Tweede beroerte laat Polokwane inwoner kritiek
Voor die skade wat hy in ‘n beroerte opgedoen het, was Johan Blignaut bekend in die stad se sportkringe.
POLOKWANE – Johan Blignaut (61) is ‘n bekende en geliefde inwoner in die dorp.
Nadat hy vir bykans 30 jaar by die Polokwane Polisie se moord-en-roof, en georganiseerde misdaadondersoekeenhede gewerk het, het hy besluit om sy eie besigheid, Pest Control te begin.
Sy dogter, Lindi Taljaard, sê dit was skaars twee jaar later dat hy deur ‘n beroerte platgetrek is.
“Hierna het hy die gebruik van sy linkerarm verloor en het baie moeilik en stadig geloop, aangesien sy linkerbeen ook aangetas is. Hy was baie sportief en bekend in die dorp vir sy deelname in gholf, krieket, veerpyltjies en potspel.”
Johan het onlangs weer ‘n beroerte gehad wat hom nou in ‘n kritieke toestand gelaat het.
“Hy is nie lid van ‘n mediese fonds nie en drie dokters het aanbeveel dat ons hom by die huis hou, waar hy gemaklik is. Die familie sorg deur die dag en sommige aande vir hom en ons het ‘n nagsuster gekry om ons te help. Ons besef hy is in ‘n baie kritieke toestand waar ons hom nou gemaklik moet hou.”
Selfs al is Johan tuis, is daar mediese onkostes vir die familie. Items soos morfienplakkers en mediese drups kos steeds geld.
“Ons benodig geld vir ‘n gedenkdiens wat ons sal hou. My pa was ‘n sprankelende mens met sy eie gure en geite. Hy was baie streng maar tog liefdevol en het sy medemens gehelp waar en hoe hy kon.”
Lesers wat graag ‘n bydrae wil maak, kan die volgende rekening gebruik:
Rekening Naam: Yolindi Y Taljaard.
Bank: Capitec.
Rekeningnommer: 1378268367.
Verwysing: Naam en van.




