Egpaar groet Mokopane na 38 jaar
Pastoor Richard Vigus is pastoor van die AGS Groeipunt Mokopane gemeente sedert Maart 2005, en was 38 jaar in die bediening.
MOKOPANE – Pastoor Richard Vigus en sy vrou, Irene, is bekende en geliefde inwoners van Mokopane. Dié egpaar begin egter in Desember ‘n nuwe hoofstuk in hul lewe, waar hulle hulself uiteindelik in Kaapstad gaan vestig.
Die egpaar het diep spore in die dorp en in talle mense se harte getrap.
Richard se aftreeboodskap vind op 1 Desember plaas en Irene se laaste dag by Laerskool Krugerpark is op 13 Desember, voordat hulle die bosveld vir die see verruil. Richard vertel dat sy suster in Parklands woon, en hulle jongste seun in Bloubergstrand.
Hulle gaan eers by sy suster tyd deurbring, daarna vir ‘n paar maande Nieu Seeland toe en daarna gaan hulle wortel skiet in die Kaap.
Richard is pastoor van die AGS Groeipunt Mokopane gemeente sedert Maart 2005, en was 38 jaar in die bediening.
Voorheen was hy by die AGS van SA Teologiese Kollege, Claremont Evangelisasie, Nelspruit, Komatipoort, Evander, Amersfoort, Bet-El (Ellisras), en toe Groeipunt. Van sy hoogtepunte sluit in die Bybelskool en die gemeente se eeufeesvieringe.
“Ek is ook betrokke by die Shonagemeente waar ek ook as pastor dien. Dié gemeente is ‘n AGS Zimbabwegemeente wat deur Kemptonpark in Suid-Afrika gevestig is. Ek het myself daardie tyd voorgestel en hulle gehelp waar nodig. Die gemeente funksioneer met hulle eie identiteit.”
Richard vertel dat Pastoor Tienie van Wyngaard sy skoene voortaan sal kom volstaan.
“Tienie is van die Groblersdalgemeente. Hy verhuis reeds in Desember hierheen, en sal reeds op 23 Desember Kersfees hier bedien. Die egpaar is baie opgewonde om deel van die Pottiesgemeenskap te raak.”
Vir Richard en Irene is dit swaar om afskeid te neem, en hulle gaan die jarelange vriendskappe en bande binne en buite die gemeente die meeste mis.
“Die lekker gholfsessies gaan ook vir seker gemis word,” skerts hy.
“Baie mense vra my of ek by ‘n ander gemeente gaan betrokke raak. Ek gaan nie my pastorale status hernu nie en ek voel ek wil aftree en ‘n nuwe beroep beoefen. Skilder was nog altyd op my lys, en sodra ons gevestig is sal ek dit waarskynlik aanpak. Sou daar wel ‘n geleentheid wees om iewers te preek in ‘n afloshoedanigheid, sal ek beskikbaar wees.”
Sy boodskap vir die gemeente, gemeenskap en vir homself is: Elke geleentheid het uitdagings, en elke uitdaging het ‘n geleentheid.
“In Joshua 1:9 staan daar; ‘Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan. God is orals met ons, maak nie saak waar ons is nie. Dit is vir ons en die gemeente ‘n nuwe seisoen en ons is opgewonde daaroor. Baie dankie vir die goeie herinneringe.




