Mokopane se Christine: Eerste Suid-Afrikaner parkour in Japan
In Japan het sy ‘n welverdiende vierde plek algeheel in vrystyl behaal, en ‘n sesde plek in die spoedhardloop.
POLOKWANE – Christine Lee, die gr. 10-leerder van Hoërskool Piet Potgieter en die eerste Suid-Afrikaner wat die land oorsee in parkour verteenwoordig, het van 12 tot 19 November in Japan aan die FIG junior wêreldkampioenskappe deelgeneem en sê dit was vir haar ‘n ongelooflike belewenis.
Christine is plaaslik aan die Marshall Sports Academy verbonde.
In Japan het sy ‘n welverdiende vierde plek algeheel in vrystyl behaal, en ‘n sesde plek in die spoedhardloop.
Sy sê dit was ‘n “wonderlike ondervinding, nie net om te sien hoe ander dele van die wêreld lyk nie, maar ook om te sien hoe die sport op ‘n groter vlak lyk.
“Ek was regtig geseënd om dit te kon ervaar”.
Sy sê sy het wel die kos uit plaaslike bodem gemis.
“Maar die kompetisie was vreeslik lekker en alhoewel ek redelik onseker en bang was omdat dit my eerste internasionale kompetisie was, was dit fantasties om te sien hoe parkour in ander lande beoefen word.”
Sy vertel dat sy haar ouers ontsettend gemis het, en dankbaar was vir haar afrigter, Richard Marshall se ondersteuning. “Hy het alles moontlik gedoen om seker te maak dat ek gemaklik en veilig voel.”




