Gr. 7 projek inspireer vir JJ (6)
‘n Gr. 7 tegnologietaak het JJ Wheeler se kreatiwiteit aangewakker en hom gemotiveer om sy eie werkende hyskraan te bou.
POLOKWANE – Die skoolkurrikulum vereis al vroeër, al hoe meer ingewikkelde take, en selfs gr. R’e moet deesdae op hul tone bly.
JJ Wheeler (6) het egter self onlangs besluit om ‘n taak, wat voorgeskryf is vir die gr. 7’s van Pietersburg Laerskool, te maak.
Leerders moes in die vak tegnologie ‘n eenvoudige stroombaan of eenvoudige elektromagneet of selfs ‘n kombinasie van beide, bou. Een opsie was om ‘n volle hyskraan met ‘n elektromagneet te bou.
Nadat die take voltooi is en punte uitgedeel is, is dit in die skool se gr. R-klasse ten toon gestel en dit is hiér waar JJ sy inspirasie gekry het.
“Rieke Bosman en Ertjie Lourens het vir ons verduidelik hoe hulle hyskrane werk. Ek het by die huis ‘n boks gekry en in my kamer gaan sit en my eie hyskraan gebou,” vertel hy.
Hy erken hy het darem ‘n bietjie hulp van sy ma gekry, maar hy het eers alles met sy eie stafie gom geplak waarna sy dit met sterker gom geplak het.
Die tou wat hy gebruik om die hyskraan te laat werk, het hy ook by sy ma gekry.
JJ sê een van sy gunsteling aktiwiteite is om geboue met sy Lego-blokkies te bou.
Hy sê hy sal sy hyskraan kan gebruik vir bouwerk.
“Ek wil graag eendag ‘n polisieman of brandweerman wees, of dalk ‘n strandrestaurant hê, maar volgende jaar wil ek eers rugby speel.”




