Bring jou beursie, die Kersmark is hier
Gedurende hierdie rapsie-langer-as-‘n-weeklange mark word daar nie net inkopies gedoen nie, maar ook heerlik gekuier.

POLOKWANE –
Een van die gewildste markte in die stad is die jaarlikse Kersmark wat by Taberna Dei Moederkampus gehou word.
Gedurende hierdie rapsie-langer-as-‘n-weeklange mark word daar nie net inkopies gedoen nie, maar ook heerlik gekuier. Ou vriende loop mekaar weer raak en kom op datum met mekaar se lewens.
Dit vind plaas in die teetuin waar daar heerlik gesmul word aan tuisgebak en vars koffie, of ‘n melkskommel en ligte middagete.
Met Kersfees net om die draai kan jy jou ou versierings verruil vir nuwe, moderne versierings en dan ook sorg vir die geskenke onder die boom.
Geskenke sluit in langdurige leerprodukte of houtspeelgoed wat ‘n leeftyd hou. Daar is kunswerke, popklere, juwele en plante om van die kies en vir die kombuis is daar eetgerei, borde en glase terwyl die braaiarea nie agterweë agter bly nie.
Daar is uitrustings te koop waar die juwele en ander bykomstighede reeds bymekaar gesit is. Smulhappies sluit in nougat, biltong en droëwors en ‘n verskeidenheid konfyte en heerlike alkoholiese drankies.
Handgemaakte Persiese matte is beskikbaar teen billike pryse saam met vrolike kussings om die leefarea op te tower.
Bring jou beursie vol geld en besoek die mark van vandag tot 7 Desember, vanaf 10:00 in die week en Saterdag van 09:00 af tot 19:00 en op die laaste Saterdag tot 17:00.
Die mark is toe op Sondae.




