Dricus ‘Stillknocks’ du Plessis bring manne saam
Dricus du Plessis was die gasspreker by ‘n jolige Wiele 500 en Tafelronde Manneaand waar geld vir Wiele 500 en die ontwikkeling van skolesport, ingesamel is.
POLOKWANE – Saterdagaand se manne-aand wat die Tafelronde Impala 157 en Wiele 500 op die rugbyveld van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé aangebied het, was ‘n geleentheid om van laatmiddag met vriende te ontspan en ‘n bydrae te maak tot ‘n verdienstelike projek.
Die vrolikhede het eers lank ná die rugbywedstryd tussen die Springbokke en Wallis op die grootskerm vertoon is, tot ruste gekom en almal was dit eens dat die uitstappie die moeite werd was.
Dricus “Stillnocks” du Plessis was natuurlik die groot trekpleister en het beslis nie teleurgestel met sy stories en dieper insig oor sy sportsoort nie.
Hy het verduidelik dat hy die jongste van drie broers is wat in die myngemeenskap van Welkom grootgeword het en op vyfjarige ouderdom aan judo begin deelneem het.
Sy ouers en sy broers is sy grootste ondersteuners en hy het verduidelik dat die slagspreuk “Hulle weet nie wat ons weet nie”, eintlik ‘n familiegrap is.
“Toe ek gaan veg het, het my opponent nie geweet wat my ondersteuners geweet het nie,” het hy verduidelik.
Seremoniemeester Tiny van Rensburg het die program deeglik bestuur en die gaste se aandag deurgaans gehou. Hy het ook ‘n veiling van wyn en aandenkings behartig en goeie pryse is behaal.
‘n Getekende collage van Noord-Transvaal rugbylegendes wat oorspronklik geteken is deur Johan Heunis, Burger Geldenhuys, wyle Mof Myburgh, Wynand Claassen, Frik du Preez, Willie Khatz, Adolf Malan, Thys Lourens, Moaner van Heerden, Ray Mordt, wyle Joost van der Westhuizen, Naas Botha en Tommie du Plessis het groot belangstelling gewek en ‘n trotse nuwe eienaar gekry.
‘n Manne-aand is natuurlik nie ‘n sukses sonder ‘n grapmaker nie en Nico Nel van Maak ‘n Las-faam het gaste laat skaterlag met sy stories.
Genoeg verversings was op die tafels en ‘n kontantkroeg het verseker dat die gees hoog geloop het. Buite is biefstuk en hoender gebraai en daar was oorgenoeg te ete.
Projeksameroeper van die Tafelronde Impala 157, Vos Botha was baie tevrede met die opkoms.
“Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning van almal wat die funksie bygewoon het en ook vir die ruim bydraes van ons borge en vir Dricus, Tiny en Nico sonder wie hierdie geleentheid nie so ‘n sukses sou wees nie.”
Voorsitter van Tafelronde Impala 157, Dario Cremona het bevestig dat die opbrengs van die funksie aan Wiele 500 en leerders van plaaslike skole wat sportbyeenkomste moet bywoon en toerusting benodig, geskenk sal word.




