Gevegskunsdrome hou Henry (10) in die ring
Henry Wills, aanhanger van die gemengde geveg kampioen, Dricus du Plessis, oefen vier aande ‘n week boks en droom van 'n toekoms in hokgevegte.
POLOKWANE – Middelgewigwêreldkampioen Dricus du Plessis het geen bekendstelling nodig nie – sy aanhangertal het die hoogte ingeskiet veral die afgelope maande.
Een so ‘n aanhanger is Henry Wills, ‘n 10-jarige leerder by Pietersburg Laerskool.
Henry woon individuele boksklasse by vier aande ‘n week vir ongeveer ‘n uur.
Sy afrigter is sy oom, Brian Hermann, en dié sê die oefening mag dalk vir Henry soos drie ure voel, maar dit is net meer as ‘n uur waar daar intensief geoefen word.
“Ek het met die sportsoort begin nadat ek vir Dricus gesien het. Ek hou meer daarvan om te boks as om te skop, en daarom is die boksklasse vir my baie lekker.”
Henry vertel sy eerste vier skopboksgevegte was reeds in 2021 toe hy al die boksers teen wie hy geboks het, gewen het. Die ander was slegs klubgevegte.
“Hierdie jaar het ek net vir die pret geboks. Ek doen nie ander sport soos rugby of krieket nie, ek boks net.”
Sy droom is om, soos Dricus, in ‘n hok te veg, en een van die oefeninge wat hy elke aand doen is om vir 10 minute lank tou te spring.
“Dit maak dat ek beter op my voete kan presteer. Ek moet ook hardloop, op gimnasiumtoerusting oefen en dan teen die oefen-pads boks,” sluit hy af.