Konsentrasiekampbegraafplaas loop deur onder vandale
Die Konsentrasiekampbegraafplaas staar voortdurende vandalisme in die gesig, met die munisipaliteit wat beloftes maak om die sekuriteit te verbeter.
POLOKWANE – Vroeër vanjaar het argeoloog Hester Roodt saam met ‘n handvol mense die Pietersburg Konsentrasiekampbegraafplaas begin skoonmaak en opknap.
Die 247 grafte is gerehabiliteer, plante is geplant om die area mooi te laat lyk, en waterpype is aangelê. Die projek is deur die South African Heritage Resource Agency befonds.
Deur die jare het die begraafplaas gereeld deurgeloop onder vandale en diefstal. Die bekende Kampkindbeeld is twee keer gesteel en so ook die hekke wat spesiaal vir die Konsentrasiekampbegraafplaas gemaak is. Dus is daar nie nou hekke by die begraafplaas nie, en met die heining wat reeds jare stukkend is, is dit die ideale blyplek vir haweloses en dwelmverslaafdes wat op hulle beurt die omgewing vandaliseer en bevuil.
Aangesien die begraafplaas die eiendom van die munisipaliteit is, is hulle verantwoordelik vir die onderhoud en sorg daarvan. Roodt het reeds ‘n verslag oor die toestand van die begraafplaas aan die munisipale bestuurder gestuur, maar geen reaksie gekry nie.
Volgens die woordvoerder van die Polokwane Munisipaliteit, Thipa Selala, is hulle bewus van en bekommerd oor die onlangse voorvalke van vandalisme wat nie net die konsentrasiekampbegraafplaas raak nie, maar ander belangrike infrastruktuur beskadig.
“Hierdie optrede belemmer die lewering van noodsaaklike dienste en beïnvloed die welstand van ons gemeenskap,” sê Selala. Hy gee lesers die versekering dat die aangeleentheid na die gemeenskapsdienstekantoor geëskaleer is. Hulle is besig om die nodige maatreëls te implementeer om verdere voorvalle van vandalisme aan te spreek en te voorkom.
“Met betrekking tot die omheiningskwessie, is heiningsmateriaal verkry en die installasieproses sal binnekort begin om sekuriteit te verbeter en ons infrastruktuur te beskerm. Ons doen ‘n vriendelike beroep op die gemeenskap om met ons hande te vat om ons gedeelde hulpbronne te bewaar deur enige verdagte aktiwiteite op ons kritieke infrastruktuur aan te meld.”




