Johan ‘Blikkies’ Blignaut het altyd voluit geleef
Johan 'Blikkies' Blignaut word onthou as 'n aktiewe mens wat die geselskap van sy vriende baie geniet het.
POLOKWANE – Blikkies, soos Johan Blignaut (61) onder sy vriende bekend gestaan het, is op 25 November na ‘n kort siekbed oorlede.
Hy was aan die polisie verbonde van 1982-2010 en waar hy by die Polokwanetak se moord-en-roof-, en georganiseerde misdaadondersoekeenhede gewerk, het hy na jare besluit om sy eie besigheid, Pest Control, te begin.
‘n Paar jaar later het hy ‘n beroerte gehad wat hom die gebruik van sy linkerarm gekos het. Hy het ook moeilik en stadig geloop, aangesien sy linkerbeen ook aangetas was.
Sy dogter, Lindi Taljaard, sê Johan was baie sportief en bekend in die dorp vir sy deelname aan gholf, veerpyltjies, krieket en potspel.
“Voor sy beroerte was hy ‘n baie sportiewe man, maar na sy beroerte het hy hom toegespits op blokkiesraaisels, sport op TV asook om misdaadprogramme te kyk.”
Blikkies word onthou as ‘n aktiewe mens wat die geselskap van sy vriende baie geniet het. Dit was vir hom lekker om in die natuur te wees en dinge daar te doen. TV- speletjies was ook iets wat hy tuis geniet het.
“My pa was ‘n baie streng, maar liefdevolle pa. Hy het nie regtig met ons geraas of ons pak gegee nie, maar dit was beslis alles net in daardie een kyk. Dan het ons geweet.”
Sy grappe is een van die dinge wat sy vriende en familie die meeste sal mis. “Sy snaakse sêgoed en storievertelvermoë gaan ook gemis word. Ons gaan sy positiwiteit mis. Dit maak nie saak hoe sleg dinge vir hom was nie, hy was altyd positief en het regtig tot op die einde geveg.”
Lindi en haar suster, Bronwynn, sê hulle het baie by hulle pa geleer. “Soos om sterk te wees, en dat niemand ons ooit sal onderkry nie. Ons het by hom geleer dat mens nie gaan lê nie, maar tot die bitter einde jou alles gee.”
Blikkies word oorleef deur sy eksvrou, Hannelie, Lindi en Bronwynn en hulle geliefdes, kleinkinders, asook sy broer, Frank en suster, Hilda en hulle families.”
‘n Gedenkdiens is op 29 November gehou.