Local News

Calie van der Walt verloor siektestryd

Calie van der Walt (71) het op 1 Desember sy jarelange stryd teen mielodisplasie, ‘n voorloper van bloedkanker, verloor.

POLOKWANE – Vir meer as 31 jaar was Calie van der Walt (71) ‘n geliefde gesig op Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se stoepe.

Selfs daarna, nadat hy uit die onderwys getree het, is hy as gas met ope arms by die skool ontvang.

Calie, wat ingenieursgrafika en -ontwerp vroeërjare by die skool aangebied het, het op 1 Desember sy jarelange stryd teen mielodisplasie, ‘n voorloper van bloedkanker, verloor.

Sy seun Stebian sê die mielodisplasie het later omgesit in bloedkanker.

“Dié het naderhand veroorsaak dat al sy organe begin swaar trek het, veral sy longe,” het hy vertel.

Nadat Calie in 2012 gediagnoseer is, het hy twee beenmurgoorplantings ondergaan gehad, waarvan die tweede een van sy seun, André af was.

“Die tweede oorplanting was tot op ‘n punt suksesvol, maar toe het sy kwaadaardige bloed weer oorgeneem. Dit is ook die rede waarom hy gereeld hospitaal toe moes gaan vir bloedoortappings en inspuitings, om sy immuunstelsel te versterk.”

Calie was, nadat hy sy hoërskoolloopbaan by Tom Naudé voltooi het, weermag toe. Hierna het hy aan die Pretoria Tegnikon studeer.

In sy gr.12-jaar was hy deel van die rugbyspan wat die Admin Beker Rugbytoernooi gewen het. Na sy studies was hy ook by Yskor betrokke en daarna het hy sy pa op die plaas gehelp. In die vroeë 1980’s ontmoet hy sy vrou, Elsabé met wie hy in 1984 trou.

In dieselfde jaar het hy by Tom Naudé begin skool gee.

“My pa was baie lief vir boer en altyd lief om in die veld te wees. Hy het dit geniet om met die beeste te werk, damme te bou, wildsheinings te span en ander plaaswerk te doen,” vertel Stebian.

Calie se kinders onthou hom as ‘n goeie leier wat met gesag gepraat het.

“Hy was nie lui nie en het geweet van harde werk. Dit het afgesmeer op ons. Hy het gelewe om ‘n daaglikse verskil te maak en altyd tyd gemaak vir ander mense. Hy het ook vir die afvlerkkinders wat gesukkel het, gehelp, deur vir hulle bystand en liefde te gee. Soms sou hy ook kos neem vir mense wat finansieël in die knyp was.”

Sy vriende en kollegas sal hom as plat op die aarde en nederig beskryf.

Stebian voeg by dat sy pa altyd meer gegee het was wat hy ontvang het. “Hy was nooit gepla met weelde en rykdom nie, solank hy net van punt A tot punt B met sy ou Isuzu-bakkie kon beweeg, was hy gelukkig.”

Calie was ‘n man met integriteit wat respek kon afdwing sonder om ‘n woord te sê. Op funksies, voor hy met ‘n toespraak begin, het daar ‘n doodse stilte neergedaal. ‘n Mens kon ‘n speld hoor val.

“My pa was baie sosiaal en het van gesels gehou. Ons gaan die tye om ‘n Sondagpotjie of Saterdagaand se braaivleisvure mis. So ook die stories wat jy van sy kinderdae vertel het, almal het altyd aan sy lippe gehang. Ons het geleer hoe om om te gee vir ons medemens en om te sien na mense wat sukkel. Ons het ook geleer om betrokke te wees in die samelewing en harte van goud te hê.”

Calie word oorleef deur Elsabé, sy drie kinders, Stebian, André en Yolandi, skoondogter Ilse-Mari en twee kleinkinders, Biandie en Milane.

Sy begrafnis sal op 11 Desember om 11:00 vanuit die N.G. Kerk Moedergemeente gehou word.

Calie van der Walt sal onthou word:

Calie sal onthou word as legendariese rugby- en atletiekafrigter asook ‘n bobaas tegniese tekene onderwyser. Sy lojaliteit as Tommie was onwrikbaar en sy liefde vir die natuur en sy Skepper was sigbaar in alles wat hy aangepak het.

Vanessa Kachelhoffer, skoolhoof van Tom Naudé onthou die lekker rugbygeselsies. “Dit het dikwels in die afrolkamer, waar hy besig was om vir sy leerders ekstra oefeninge in tegniese tekene af te rol, sodat hul uitslae die beste in Limpopo kon wees plaasgevind. Toewyding was sy middelnaam. Hy was ‘n bosvelder in murg en been en ‘n sout-van-die-aarde Tommie. Jare na sy aftrede het ons hom naweek vir naweek op die pawiljoen aangetref waar hy sy Saterdae deurgebring het as vurige Tommie-ondersteuner.”

Kollega At Botha onthou hom as ‘n legende en baie ernstige mens wat geglo het in wat hy doen.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Raeesa Sempe

Raeesa Sempe is a Caxton Award-winning Digital Editor with nine years’ experience in the industry. She holds a Bachelor’s Degree in Media Studies from the University of the Witwatersrand and started her journey as a community journalist for the Polokwane Review in 2015. She then became the online journalist for the Review in 2016 where she excelled in solidifying the Review’s digital footprint through Facebook lives, content creation and marketing campaigns. Raeesa then moved on to become the News Editor of the Bonus Review in 2019 and scooped up the Editorial Employee of the Year award in the same year. She is the current Digital Editor of the Polokwane Review-Observer, a position she takes pride in. Raeesa is married with one child and enjoys spending time with friends, listening to music and baking – when she has the time. “I still believe that if your aim is to change the world, journalism is a more immediate short-term weapon." – Tom Stoppard

Related Articles

Back to top button