Evangelie-bedien is Pero (17) se groot passie
Pero sê dat hy volgende jaar by die Jabulani Africa Ministry (JAM) op Shikwaru inskakel vir 'n diensjaar vir Christus.
MOKOPANE – Die 17-jarige Pero Boshoff se passie is om ‘n verskil in mense se lewens te maak.
“Ek wil betrokke wees in die gemeenskap om die goeie nuus van die evangelie na mense te bring,” sê Pero.
Hy vertel dat hy verlede jaar saam met sy ma, Amelia, Celebration Church en Joyce Meyer Hand of Hope se groep vrywilligers van regoor die wêreld op ‘n mediese sendinguitreik na Zambië gegaan het.
“Dit was ‘n wonderlike, lewensveranderende ervaring, en dit was vir my die finale oortuiging. Ek het die tweede dag vir my ma gesê dis wat ek met my lewe wil doen.”
Pero voeg by dat hy in 2022 vir Gabriella Brandão van Brasilië ontmoet het by Celebration Church.
“Sy het die program vir InMission geskryf, wat jong mense leer en blootstel aan alle aspekte van die bediening deur eerstehandse ondervinding in hulle kerk in Aracaju, Brasilië.
Hy verduidelik dat ‘n mens dié ondervinding vir tussen twee en vier weke kan bywoon. “Gabriella se vertelling het my super opgewonde gemaak. Ek het gedink ek wil dit baie graag doen vir ondervinding en om ‘n beter idee te kry waar ek in die bediening wil betrokke raak.”
Ek het in Julie per e-pos aansoek gedoen en na my onderhoud met Gabriella is ek goedgekeur om in Mei 2025 vir vier weke na InMission te gaan.
Pero was tot onlangs in die Pons leersentrum en is tans besig met sy GED-kwalifikasie.
“Ek het ‘n wonderlike ondersteuningsnetwerk. My ouers, en oupa en ouma is baie opgewonde oor die geleentheid. Met hierdie kan ek in my oupagrootjie, wat ‘n sendeling was, se voetspore volg en my vriende dink dis fantasties dat ek die geleentheid kry om dit te kan beleef.”
Pero sê dat hy volgende jaar by die Jabulani Africa Ministry (JAM) op Shikwaru inskakel vir ‘n diensjaar vir Christus.
“Dit gaan my ook baie help en voorberei vir my tyd in Brasilië. Ek wil baie graag daarna verder studeer by Ragla (Reaching a Generation Leadership Academy) om verder in die bediening te gaan. Mense wat ek ontmoet het in Zambië, huisvriende en familie het al geld in my rekening inbetaal om te help betaal vir my vliegtuigkaartjie wat R19 893 kos. Ek het tot dusver R11 053 in skenkings ontvang, waarvoor ek opreg dankbaar is. As iemand in hulle harte voel om ‘n bydrae te maak, is hulle welkom om in my rekening in te betaal.”
Rekeningnaam: P Boshoff.
Bank: Capitec Bank.
Rekening: Spaarrekening.
Nommer: 229 307 1185.