Mokopane se Tannie Mart blaas 93 kersies uit
Buiten die geboorte van haar seun, was die volkspele beslis die hoogtepunt van Tannie Mart Beukes se lewe.
MOKOPANE – Die bedrywige Tannie Mart Beukes, ‘n inwoner van die Piet Potgieter Monument Ouetehuis en ‘n prominente figuur in die dorp, het onlangs haar 93ste verjaarsdag gevier.
Tannie Mart vertel sy is op 12 November 1931 in Ermelo gebore.
“Ek het op ‘n plaas buite Ermelo grootgeword en later ook daar skoolgegaan. Daardie jare was daar mos nie so ‘n ding soos matriek nie, net standard agt.”
Van jongs af was sy lief vir musiek en het op skool kitaar gespeel. Gerrie Beukes het daardie jare die skoolorkes afgerig en eers was sy oog op Tannie Mart se vriendin, Lona wat die klavier gespeel het.
Oom Gerrie het toe vir Tannie Mart ingespan om Lona uit die koshuis te kry sodat hy haar beter kon leer ken, maar die kalwerliefde het nie lank gehou voor ware liefde tussen Oom Gerrie en Tannie Mart begin blom het nie.
Sy het vir agt jaar vir Nedbank gewerk voor die twee die pad platteland toe gevat het waar Oom Gerrie werk by Northern Transvaal Tractors gekry het.
“Daar was nie blyplek in Mokopane nie, ons moes maar aanvaar om agter die bottelstoor in ‘n rondawel ons intrek te neem voor ons, ons eie huis kon koop,” vertel Tannie Mart.
Nedbank het nie ‘n vakature op daardie stadium gehad nie en sy was maar te dankbaar om by die huis te kon wees.
Sy vertel hartseer dat die dokter vir haar gesê het sy nooit kinders sou hê nie, en na 10 jaar se wag het sy ‘n seun in 1960 gehad.
Jare later, in 1977, het haar seun, skoondogter en drie kleinkinders haar kom groet net voor hulle met vakansie vertrek het, en het almal op pad daarheen verongeluk, vertel sy.
Die besige vrou kon nie vir lank stilsit nie en sy het ingespring om geld in te vorder en die boeke te balanseer by ‘n bankrot maatskappy.
Gilbertson Motors het haar potensiaal raakgesien, vertel sy, en sy het uiteindelik vir 34 jaar by die maatskappy gewerk.
Saam het die egpaar op ‘n plaas buite die dorp gewoon, en Oom Gerrie is in 1987 ter ruste gelê. Tannie Mart het vir nog ses jaar aangebly op die plaas voordat stropers en inbrekers haar teruggedryf het dorp toe, vertel sy.
Dit was 12 jaar voor sy weer sou liefde vind. Jannie Kirsten het haar voete onder haar uitgeslaan en die twee was nege jaar getroud voordat hy oorlede is.
Tannie Mart, wat aktief betrokke is in die gemeenskap, het die knoop daarna deurgehaak met Dirk Rossouw, wat twee jaar later oorlede is.
Daarna het Teddie Beukes, Oom Gerrie se broer, vir Tannie Mart genader vir blyplek in die ouetehuis.
Hy was ‘n tandarts en wou graag op die platteland kom aftree. Die oor-en-weer gekuiery het uiteindelik gelei tot ‘n huwelik van 14 jaar.
Tannie Mart laat haar nie sommer onderkry nie, en hou van uitdagings.
Tot onlangs toe het sy nog lyndans gedoen, sy speel rolbal, rig die Skemeruur Volksanggroep vir bejaardes af by die ouetehuis, is ouderling by die Hervormde Kerk, dien op die huiskomitee van die ouetehuis, en vir 46 jaar was sy leier van die volkspelelaer op Mokopane.
Sy het ook al opgetree as toergids vir vier toere na Namakwaland en een toer gelei na Namibië en was ook een van die stigters van die gewilde Biltongfees.
Buiten die geboorte van haar seun, was die volkspele beslis die hoogtepunt van haar lewe, vertel sy.
Saam met die volkspelers het sy drie keer deur Europa getoer en het ook een keer ‘n draai in die VSA gemaak. “Ons was die verteenwoordigers van Suid-Afrika en ek het ook my SA baadjie kompleet met my balkies van die toere op as bewys,” spog sy.
Haar gesondheid ry tans ‘n bietjie wipplank en sy het in haar lewe al te doen gekry met kanker, maar sy glo daaraan om aktief te bly: “En dis seker die suksesresep van my hoë ouderdom. Ek wil nie stilsit nie, want dan gaan my ouderdom my vang.”