Local News

Geloftedag steeds gevier

Polokwane Observer het by Afrikaner Kultuurleier Johan Willemse gaan kers opsteek oor die betekenis van Geloftedag vir behoudende Afrikaners.

POLOKWANE – Maandag vier Suid-Afrikaners Versoeningsdag en Afrikaners in besonder, Geloftedag soos dit voorheen bekendgestaan het.

Polokwane Observer het by Afrikaner Kultuurleier Johan Willemse gaan kers opsteek oor die betekenis van Geloftedag vir behoudende Afrikaners.

Volgens Willemse is daar inderwaarheid drie geloftes ter sprake en die eerste daarvan het beslag gekry nadat die HOIK/VOC se goewerneur Jan van Riebeeck 6 April in 1654 as ‘n vakansiedag verklaar het.

Die bakker moes ekstra brode bak vir ekstra kos, die arbeiders het elkeen ‘n bonus gekry en almal het aan spele deelgeneem.

Die goewerneur het in sy dagboek geskryf dat dit die jaarlikse herdenking is van die dag waarop hulle deur die Here gelei is met die skepe Dromedaris, Reyger en Goede Hoop en hier ter plaatse aangeland het, om ‘n vesting en kolonie op bevel van hul here en meesters te bou en te bestendig, en waargeneem het dat God die Here alle sake tot vandag toe met vele seëninge voorspoedig en na wense laat verloop het.

In 1838, van 9 tot 15 Desember, word ‘n eed uitgevaardig toe ‘n minimale groep Christenboere onder Andries Pretorius, teen duisende opgeleide Zoeloesoldate, in die Slag van Bloedrivier teen mekaar te staan gekom het. God het die eed van Andries Pretorius eerbiedig en die oormag in die hand van die boere gegee.

Die derde volksgelofte is gedurende Desember 1880 deur assistentpresident Paul Kruger te Paardekraal, die perdeplaas van generaal Andries Pretorius waar hy in 1850 met perde begin boer het, afgelê.

Dit het gebeur nadat Sir Theophilus Shepstone van die Britse Ryk onververwags op 12 April 1877 die Zuid-Afrikaansche Republiek geannekseer toe die Republiek ‘n tekort aan ammunusie gehad het na oorlog met swart stamme.

Op 13 Desember 1880 het Kruger die gelofte voorgehou nadat elke boer ‘n klip wat hy saamgebring het, op ‘n stapel geplaas het.

“Indien die liewe Heer ons sal help en dit Sy wil is en ons ons land kan terugkry, dan moet hierdie volk elke jaar kom feesvier, spesifiek by hierdie klipstapel, en so ons gelofte aan die Heer betaal waarvan hierdie klipstapel ‘n ewige getuie sal wees.”

Volgens Willemse mag ‘n gelofte nie ligtelik gemaak word nie, maar waar God ons die drie keer gunstig gehoor het, behoort elke Christen Afrikaner voormelde drie geloftes te eer.

Willemse lewer Maandagoggend die feesrede tydens die geloftefees by Strydpoort, buite die stad. Verrigtinge neem reeds môre (Vrydag) in aanvang en gaste mag kom kampeer. Wikus Venter (064 625 1623) en Anneke Muller (082 717 2661) beskik oor meer besonderhede.

‘n Geloftefees word ook Maandag by die Pietersburg Doornkraal Geloftefeesterrein gehou en verrigtinge begin om 09:30 met ‘n erediens nadat die gelofte voorgelees is. Die dag word afgesluit met ‘n bring en braai. Skakel 082 747 4847 vir meer besonderhede.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button