Teddie-kinkel in die sprokies-verhaal
Osieteddies-kleuters het sprokies lewendig gemaak met hul jaarlikse konsert met bekoorlike danse en 'n speelse Teddy-draai.
POLOKWANE – In Sprokiesland is enigiets moontlik – van vegetariese wolwe tot varkies wat nie meer in huise van gras woon nie.
Vir hulle jaarlikse konsert is die kleuters van Osieteddies Kleinkindontwikkelingsentrum in sprokieskarakters omtower en het die dansende kleuters nuwe lewe aan ou verhale gegee.
Hierdie jaar was die tema Tiekiedraai, Kleutermusiekblyspel met ‘n Teddie-kinkel en elke klas het die kans gehad om op ‘n paar liedjies te dans en soms selfs saam te sing.
Daar was eendjies en paddas, pienk varkies en laggende kabouters, prinse en prinsesse, Rooikappie en Aspoestertjie – almal was daar.
Selfs die personeel kon nie die kans om soos spinnekoppe te hop laat verby gaan nie, en het die gehoor behoorlik met hulle danspassies vermaak.




