Bekende Mokopane egpaar sprei hul vlerke
‘n Opwindende uitdaging het egter nou Santie en Marco de Sousa se pad gekruis.
MOKOPANE – Die bekende en geliefde egpaar Santie en Marco de Sousa, wat hul hele lewe al in Mokopane woon, groet die dorp op 20 Desember om hul vlerke te sprei.
Die egpaar vertel dat hulle albei hul skoolloopbane afgeskop het by Laerskool Krugerpark en later aan Hoërskool Piet Potgieter gematrikuleer het voordat die studies geroep het.
Die onderwysgogga het vir Santie gebyt en sy het dadelik ingespring om haar droom na te jaag.
“My fokus en passie is om met kinders te werk, en om die kinders te wys dat hul ook ‘n doel in die samelewing het.”
Sy voeg by dat haar grootste droom is om uit te reik na kinders, “om vir hulle meer van Jesus te vertel en om hulle meer te leer van die dinge van die wêreld”.
Sy het sewe jaar gelede ‘n onderwyspos in die grondslagfase aanvaar by Laerskool Krugerpark.
Die lewe het eers vir Marco op ander paaie gelei voor die onderwyssaadjie in hom ontkiem het.
“Na hoërskool het ek aangesluit by Tukkies se rugbyakademie en ek het die geleentheid gekry om vir ‘n jaar oorsee te gaan rugby speel. Daarna het my tuisdorp my teruggelok.”
Na hy vir ‘n ruk gewerk het, het hy berading en sielkunde gaan studeer aan die Noord-Wes Universiteit in Potchefstroom.
“Ek wou nie terugkom Mokopane toe maar terwyl ek nog op universiteit was, is ek die pos aangebied by Laerskool Krugerpark waar ek van rekenaarklasse, Engels, natuurwetenskap, tegnologie, sosiale wetenskap en Bybelstudies aangebied het vir verskillende grade.”
Hy was vir agt jaar aan Laerskool Krugerpark verbonde voordat hy oorgeskuif het na Hoërskool Piet Potgieter om Engels aan te bied.
Santie en Marco het mekaar al by Laerskool Krugerpark ontmoet.
“Die dag toe ek gegaan het vir my werksonderhoud, het Marco vir my die deur oopgemaak, maar ons het nie regtig met mekaar gepraat nie. Ek was maar ‘n bietjie moeilik,” skerts Santie.
Die egpaar is al amper drie jaar getroud.
‘n Opwindende uitdaging het egter nou hul pad gekruis.
“Ons is tans in die onderwys maar ons droom is maar die bediening, so ons het die Here se roeping gehoor en by verskeie plekke aansoek gedoen. Ons gaan albei inval by Laerskool Ellisras volgende jaar.”
Hulle vertel dat sedert die werklikheid begin nesskop het, en hulle Potties se stof van hulle voete gaan afskud, besef hulle eintlik hoe baie mense hulle gaan mis.
“Ons laat nie net familie agter nie maar goeie vriende ook. Mokopane was ons gemaksone en dit was nogal ‘n uitdaging om uit daardie gemaksone te beweeg, en te dink ons gaan nou ‘n hele nuwe uitdaging aanpak.”
Hulle het ook ‘n spesiale boodskap aan jongmense: “Jy sal nie groei tensy jy buite jou boksie beweeg nie. Moenie stagneer nie, die Here kan slegs ‘n persoon lei wat beweeg.”
Die egpaar bedank elkeen wat hul bygestaan, ondersteun en gemotiveer het oor die jare.




