Spesiale Kerspakkies vir Mokopane se seniors
Die opwinding was groot toe Yolande Coetzee, die organiseerder, sê die Kershelpers kan maar die geskenkpakkies begin uitdeel.
MOKOPANE – Die senior burgers van Soetdoring en Herfsland kon hul opgewondenheid skaars beteuel verlede Saterdag, toe Kershelpers geskenkpakkies met nie-bederfbare voedsel uitgedeel het.
Vroegoggend het leerders van Hoërskool Piet Potgieter (HPP) se Pottie Ambassadeurs en die ATKV, sowel as leerders van Laerskool Krugerpark en Thorntree Preparatory School byeengekom waar hul gesigte versier is om in die Kersgees te kom.

Surita Oosthuizen van HPP bevestig dat die Ambassadeurs, die ATKV en BB Ford genader het vir hulp en dat die personeel van BB Ford ywerig gehelp het om die spesiale pakkies op te maak.
Die opwinding was groot toe Yolande Coetzee, die organiseerder, sê die Kershelpers kan maar die geskenkpakkies begin uitdeel.
“Die doel van die projek is juis om ons jong kinders te leer van empatie en omgee vir ons bejaardes,” vertel sy.

“Ek kon dit sien uitstraal uit elke gesiggie. Van die kinders het met trane in die oë kom vertel van hoe ‘n tannie begin huil het van blydskap en ‘n ander een het weer gespog oor die tannie wat haar ‘n soentjie gegee het.”
Yolande voeg by dat dit werklik spesiaal was om die geleentheid saam met die kinders te kon beleef, en te sien dat hul besef hoe belangrik die bejaarde oumas en oupas vir almal in die samelewing behoort te wees.

“En al was dit so warm het van die jongste, ‘n vierjarige helpertjie, tot die 17-jariges fluks en gretig bly uitdeel.”
Yolande bedank elke inwoner, besigheid, ouer, onderwyser en kind wat bygedra het om die Kersseisoen spesiaal te maak vir die bejaardes van Herfsland en Soetdoring.
“Dankie vir elke boks en bydrae wat met soveel moeite opgemaak en by my afgelewer is. Dit maak die bejaardes se las hierdie Desember soveel ligter.”




