Local News

Juf. Denja groet die Osies

Denja was vir die afgelope vier jaar deel van die Oosskool-familie en erken sy gaan vanjaar met 'n swaar hart weg.

POLOKWANE – Toe Denja Pretorius moes kies tussen verpleging en onderwys, het die deure na die onderwys oopgeswaai en die keuse vir haar beslis makliker gemaak.

“Ek het reeds op skool begin bid dat die Here vir my deure sal oopmaak. Ek het ‘n groot passie vir kinders en vroue, hulle lê my na aan die hart.”

Denja was vir die afgelope vier jaar deel van die Oosskool-familie en erken sy gaan vanjaar met ‘n swaar hart weg.

“Ek trou vroeg volgende jaar en ons gaan in Pretoria woon. Ek is opgewonde en sien uit na wat die Here vir my beplan, maar ek is ook hartseer om afskeid te neem.”

Denja het haar eerste jaar in die onderwys as studenteonderwyser by Laerskool Krugerpark begin waar sy vir die gr. 3 remediërende klas verantwoordelik was. Sy het begin wonder of sy die regte keuse gemaak het en begin bid vir oplossing. Weer het die deure oopgegaan en hierdie keer was dit ‘n gr. 4-klas by Oosskool in lewensoriëntering.

“Dit is hier waar ek besef het ek is gebore vir die onderwys. Die personeel het my werk lekker gemaak en ek geniet dit baie hier.”

Denja het onlangs haar graad in onderwys verwerf en beoog om moontlik haar honneurs ook te doen. Sy dink daaraan om later in sielkunde of selfs spelterapie te studeer.

“Ek wil nie net ‘n gewone onnie bly nie. Kinders vandag het sielkundige hulp nodig want hulle weet nie altyd hoe om hulle gevoelens gesond uit te druk en te hanteer nie. Ek gebruik altyd ‘n ballon as voorbeeld. Alles wat mense van en vir jou sê gaan in die ballon in en hy word groter en groter totdat hy in jou gesig bars en vir jou en almal rondom jou sleg beïnvloed. Kinders moet leer hoe om hulle emosies te hanteer en op die gepaste manier kan reageer.”

Denja is lief daarvoor om te skryf en droom daarvan om ‘n boek te skryf. Sy is avontuurlustig en geniet dit om staproetes saam met haar verloofde, Christo Grove, en vriende af te lê.

Sy beoog ook om dalk eendag in die bediening in te gaan met die doel om vroue en kinders te bemagtig, “en hulle te laat besef wat hulle waarde in God is en hoe Hy hulle sien”.

Mooi loop, juffrou Denja!

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button