Inwoners rol moue op om slaggate self se vul
Polokwane-inwoners neem aksie en vul self slaggate ná swaar reën, terwyl hulle wag vir munisipale herstelwerk.
POLOKWANE – Die afgelope weke se swaar reën het groot skade aan die paaie in en om Polokwane aangerig, met talle slaggate diep genoeg om nie net voertuie se bande nie, maar ook onderstelle ernstig te beskadig.
Op die N1-noord net buite die stad, het die ryoppervlak so erg verswak het dat motoriste nie eens kon uitswaai om slaggate te vermy nie, en ondanks die reën wat opgehou het en die pad se oppervlak wat droog genoeg geraak het vir herstelwerk, is geen munisipale instandhouding gedoen nie.
Inwoners hier het mettertyd besluit om die slaggate self op te vul.
Gewapen met bakkies, grawe en grond langs die pad, het hulle saamgespan om die pad tydelik bruikbaar te maak.
Volgens Henry Moolman, een van die inwoners wat betrokke was, het hul talle versoeke aan die munisipaliteit gestuur sonder enige terugvoer.
“Ons kon nie langer wag nie, die gate was eenvoudig te groot, en ‘n noodlottige ongeluk was onafwendbaar.
“Ek het gereeld tot drie voertuie per dag met skade langs daardie stuk pad sien staan. Daar is boonop geen beligting snags nie, wat die situasie nog gevaarliker maak. Dit was vir ons ‘n kwessie van motoriste se veiligheid,” sê hy.
Die span inwoners het binne slegs twee ure die slaggate gevul, maar Moolman beklemtoon dat die herstelwerk slegs tydelik is en hulle hoop dat die munisipaliteit dringend ‘n permanente oplossing sal bied.
Munisipale woordvoerder Thipa Selala het die inwoners se inisiatief erken en hul toewyding tot die verbetering van infrastruktuur geloof.
“Ons waardeer die gemeenskap se proaktiewe benadering, maar daar is sekere belangrike aspekte wat aangespreek moet word,” sê hy.
Volgens Selala is die munisipaliteit nie amptelik van die inwoners se aksie ingelig nie.
“Gemeenskapsgeleide inisiatiewe soos hierdie moet eers met die munisipale owerhede gekommunikeer word voordat enige werk gedoen word,” het hy verduidelik.
Hy het ook daarop gewys dat ongemagtigde herstelwerk die duursaamheid van paaie kan benadeel en moontlik veiligheidsgevare vir motoriste kan inhou.
“Padinstandhouding vereis spesifieke materiale en tegnieke om langtermyndoeltreffendheid te verseker. Sonder toepaslike kundigheid kan hierdie goedbedoelde herstelwerk vinnig agteruitgaan en uiteindelik tot erger skade lei.”
Die munisipaliteit moedig inwoners aan om padprobleme deur die korrekte kanale aan te meld, sodat herstelwerk stelselmatig en deur gekwalifiseerde personeel gedoen kan word.
“Ons erken die waarde van gemeenskapsbetrokkenheid en moedig deelname aan deur formele programme wat inwoners in samewerking met die stad toelaat om dienslewering te verbeter,” sê Selala.
Hy doen ‘n beroep op die gemeenskap om deur die korrekte prosesse met die munisipaliteit te skakel, sodat herstelwerk doeltreffend, veilig en in lyn met langtermyninfrastruktuurbeplanning uitgevoer kan word.




