PHS rek-onnie beste in Pietersburg distrik
Karlien Malan ontvang erkening vir haar toewyding om leerders te help om sukses te behaal deur ekstra lesse in rekeningkunde.
POLOKWANE – Terwyl haar kollegas op terreindiens is of in die personeelkamer tee of koffie geniet, gebruik Karlien Malan haar pouses om ekstra rekeningkundelesse aan te bied.
Dit was dus geen verrassing nie, toe sy onlangs deur die Onderwysdepartement vereer is as die distrik se beste rekeningkunde-onnie.
Karlien is reeds sedert 2011 deel van Hoërskool Pietersburgspan en het oor die jare heen vir gr. 8 tot gr. 12-klasse rekeningkunde aangebied.
“My grootste vreugde as opvoeder is om leerders wat sukkel, te help om rekeningkunde beter te verstaan en selfs te begin geniet. Ek gebruik my pouses en naskooltyd om ekstra tyd hier aan hulle te wy deur ekstra klasse. Dit is vir my wonderlik om komplekse konsepte aan leerders te verduidelik, totdat hulle die lig sien.”
Sy sê sy glo vas dat rekeningkunde, net soos wiskunde, oefening vereis.
“Veral in gr. 12 werk ons deur ou vraestelle om seker te maak dat leerders die basiese vrae met selfvertroue kan beantwoord en die meer gevorderde vrae met ‘n stewige 50% slaagsyfer kan aanpak.”
Rekeningkunde is vir baie leerders ‘n dooie en vervelige vak, maar Karlien probeer om dit lewendig te maak deur praktiese voorbeelde uit die privaat sektor by haar lesse te inkorporeer.
“Ek vertel gereeld hoe oudits werk en hoe ondernemings funksioneer. Dit wek baie keer leerders se belangstelling en inspireer hulle om ‘n loopbaan in rekeningkunde te volg. In 2024 het ek 81 gr. 12-leerders gehad, waarvan 35 besluit het om ‘n rigting in rekeningkunde te gaan studeer. Dit is ‘n veld vol geleenthede, en ek help ook leerders wat nie voltyds by universiteite wil studeer nie, om by firmas te werk terwyl hulle deeltyds studeer.”
Oor haar toekenning sê Karlien kom die eer aan die genade van die Here toe, “en ook aan my gr. 12’s van 2024 wat ongelooflik hard gewerk het. Hulle toewyding en sukses motiveer my om steeds alles te gee as opvoeder en ‘n verskil te maak in die lewens van elke leerder wat deur my klaskamer stap”.




