‘Leef met Hoofletters’ saam met dr. Pienaar
Dr. Johan Pienaar motiveer deelnemers by N.G. Kerk Kremetart met sy praatjie oor groei, geloof in hulle self, en om 'n verskil te maak.
POLOKWANE – “Ons is halfprysmense.”
Só begin dr. Johan Pienaar, predikant, skrywer, motiveerder en voormalige moderator van die noordelike sinode, sy praatjie ‘Leef met Hoofletters’ Saterdagoggend.
Pienaar en sy vrou, Rita, het verlede naweek besoek afgelê by die N.G. Kerk Kremetart waar hy ook Sondag gepreek het.
Tydens die praatjie Saterdagoggend het hy die gehoor gemotiveer om te doen wat hulle kan, met dit wat hulle het.
“Ons word nie na waarde beoordeel nie. Ons moet egter in onsself glo.”
Hy het die woord ‘groei’ gebruik om sy boodskap oor te dra.
• Glo dat daar meer is.
• Roeping: Gebruik die geleenthede wat die tyd jou bied. Dit is ‘n voorreg om aan ander te kan gee. Moenie jou droom verloor nie, jy het die geleentheid om ‘n verskil te maak.
• Ontwikkel en soek nuwe geleenthede: Moenie ophou om jouself te ontwikkel nie. Kyk na die keuses wat jy maak.
• Een dag op ‘n slag: Doen een ding op ‘n slag en neem dit een dag op ‘n slag.
• Invloed: Wat is jou invloed en waarvoor gebruik jy dit. Wat hoor ander mense van jou en watter spore laat jy agter.
Na afloop van die praatjie het almal wat teenwoordig was koek en koffie geniet.





