Vorme van aanranding en redes hoekom verweer nie aanvaar word nie
Polokwane Observer het Andries Rheeder van Rheeder Prokureurs genader oor die verskillende vorme van aanranding, en die verskillende verweer.

POLOKWANE – Aanranding is ‘n ernstige misdaad wat nie net fisieke skade veroorsaak nie, maar ook diep emosionele en sielkundige gevolge vir slagoffers kan hê.
Polokwane Observer het Andries Rheeder van Rheeder Prokureurs genader oor die verskillende vorme van aanranding, en die verskillende verweer.
1. Gewone aanranding:
“Hier die soort aanranding is wanneer een persoon ‘n ander persoon stamp, klap of met die vuis slaan.
“Dit is jou gewone vuisgeveg of ‘n klap by die kroeg. Daar is egter ook gevalle waar die blote fisiese aanraking van ‘n persoon kan lei tot aanranding. Daar is egter die de minimis-reël wat die howe toepas, wat bepaal dat sekere vorms van fisiese aanraking van so geringe aard is, dat alhoewel dit streng tegnies aanranding is, die persoon onskuldig bevind kan word.”
2. Aanranding met die opset om ernstig te beseer.
“Dit is wanneer iemand so ernstig aangerand word dat hulle ernstige beserings opdoen of wanneer ‘n voorwerp as wapen gebruik word om die persoon aan te rand. Die aanranding sou tot ernstige beserings lei.
Die algemene reël is dat ‘n persoon wat hiervan aangekla word, van die misdryf aangekla sal word as daar ‘n ernstige wond toegedien is en die persoon met ‘n wapen aangerand is.
Dit is egter nie in alle gevalle van toepassing nie. Waar ‘n persoon deur ‘n groep mense aangerand is en die persoon, geskop en geslaan is, kan die groep aangekla word van die misdaad.
Die maatstaf is of die persoon of persone die bedoeling gehad het om die klaer ernstig te beseer.”
3. Aanranding deur dreigement:
“Hierdie klag is die minste ernstig van die drie misdrywe.
“Tydens hierdie vorm van aanranding word die slagoffer gedreig met geweld, soos wanneer iemand sê ek gaan jou slaan. Dit behels nie fisiese kontak nie en slegs die blote dreigement van geweld is voldoende vir die lê van ‘n kriminele klag. Die dreigement moet nie vaag en onbepaald wees nie. ‘n Voorwaardelike dreigement waar jy ‘n ander persoon dreig met die voorwaarde dat jy dit doen om jouself te verdedig stel ook nie die misdryf daar nie. Laastens moet die persoon wat die dreigement maak, in ‘n posisie wees om die dreigement uit te voer. ‘n Voorbeeld hiervan sal wees as die persoon wat die dreigement uiter, nie die liggaamsbou en krag het om die dreigement uit te voer nie.”




