Dezi se broer kry die groenlig as haar skenker
Armand van Huyssteen sê hy het lank met die besluit geworstel, maar dat dit vir hom 'n verligting was toe hy die groen lig gekry het.
POLOKWANE – Vir die tienjarige Dezaray van Huyssteen, beter bekend as Dezi, lyk dit ná meer as ‘n jaar van dialise uiteindelik of daar hoop is.
Dezi het op 28 Junie verlede jaar haar eerste dialise ontvang, en sedertdien was dit vir haar en haar ouers, Basie en Makkie, ‘n pad vol uitdagings.
Lees ook: Goeie nuus vir jong Dezi van Huyssteen (10)
Tans is sy meer as 12 uur per dag aan ‘n dialisemasjien gekoppel met slegs 6% nierfunksie.
Volgens haar ma, Makkie, is die hele gesin getoets as moontlike nierskenkers, maar sy, Basie en Dezi se ouer suster is om verskeie redes nie geskik bevind nie.
Uiteindelik is Dezi se broer, Armand (23), wel goedgekeur. Die gesin wag nou net op ‘n finale operasiedatum.

Armand sê hy het lank met die besluit geworstel, maar dat dit vir hom ‘n verligting was toe hy die groen lig gekry het.
Lees ook: Mokopane maak harte oop vir moedige Dezi
“Jy speel met die kaarte wat die lewe vir jou uitdeel, so dit was ‘n gevoel van verligting toe die toetse wys ek kan vir Dezi skenk,” sê hy. Hy is dankbaar dat sy nou die regte mediese sorg ontvang. “Ons almal wag net in spanning om die hele proses verby te kry.”
Makkie vertel dat die situasie vir hulle as ouers uiters moeilik was, veral die wete dat haar seun in die toekoms met net een nier sal moet funksioneer.
Maar Armand het haar gerusgestel: “Ek sien nie kans dat my sussie vir nog agt jaar op ‘n waglys moet wees nie. Ek wil haar graag van die dialisemasjien af hê sodat sy haar jong lewe kan begin geniet.”
Lees ook: Mokopane maak hande en beursies oop vir Dezi
Dezi se 11de verjaarsdag op 11 September kan moontlik ‘n nuwe begin wees, indien sy teen daardie tyd die groot geskenk van ‘n gesonde nier ontvang.
Self sê sy eenvoudig: “Ek weet dat my boetie baie lief is vir my en ek is baie dankbaar teenoor my boetie.”



