Andru se rit van Polokwane tot Kaap: Só kan jy ook help
Andru het die meer as 2000km-reis op 16 Desember begin om bewusmaking vir kinderkanker te skep, met die plan om op 22 Januarie te arriveer.
POLOKWANE – Andru van Zyl (18) beoog om vandag sy ambisieuse fietsrit van Polokwane na Kaapstad te voltooi.
Hy het die meer as 2000km-reis op 16 Desember begin om bewusmaking vir kinderkanker te skep, met die plan om op 22 Januarie te arriveer.
“My reis was baie geseënd en niks groot het verkeerd geloop nie. Die enigste probleme was gebroke wiele en speke aan my fiets,” het hy gesê.
Lees ook: Andru: ‘Baie kilometers en ‘n duisend-en-een-dinge’
Behalwe vir bewusmaking, samel Andru ook skenkings in vir Childhood Cancer Foundation (Choc).
Dié organisasie ondersteun gesinne van kinders wat met kanker of lewensbedreigende bloedafwykings gediagnoseer is – van die tyd van diagnose af tot die kind in remissie is of, in sommige gevalle, tot die kind sterf.
Taryn Seegers, kommunikasie-koördineerder by Choc, verduidelik die ondersteuning wat die organisasie bied: “Ons voorsien verblyf naby behandelingsentrums, vervoer na en van hospitale, maaltye, emosionele en psigososiale ondersteuning, opvoedkundige hulp en praktiese leiding.
“Ons fokus is daarop om hindernisse te verwyder sodat gesinne op wat die belangrikste is, hul kind se behandeling en welstand, kan konsentreer.”
Choc se impak word verder versterk deur vrywilligers soos The Choc Cows – alledaagse Suid-Afrikaners wat hul passies in fondseinsameling omskep.
Seegers sê die organisasie het vroeg bewus geword van Andru se inisiatief.
“Van die begin af was dit duidelik dat dit nie oor persoonlike prestasie gaan nie, maar oor impak en bewusmaking rondom kinderkanker,” het sy gesê.
Een van Choc se huidige uitdagings is om die groeiende vraag na dienste te hanteer namate meer kinders gediagnoseer word.
Om stygende bedryfskoste met volhoubare befondsing te balanseer, terwyl ondersteuning oor alle streke heen verseker word, bly ‘n voortdurende taak.
Belangstellendes wat by Choc wil betrokke raak of skenkings wil maak, kan Taryn Seegers by taryn.seegers@choc.org.za kontak.




