15-jarige Hoërskool Pietersburg-leerder veg teen aggressiewe breingewas
’n Ma se enigste wens is dat haar 15-jarige dogter net weer haarself kan wees nadat ’n aggressiewe breingewas haar lewe omvergewerp het.
POLOKWANE – “Sy moet net weer Anuska wees.”
Hiérdie is die eenvoudige, maar diep wens wat Natanya Deyzel vir haar 15-jarige dogter, Anuska het.
Anuska is onlangs met ‘n hoëgraadse, kwaadaardige breingewas gediagnoseer – ‘n anaplastiese talamiese oligodendroglioom (graad 3) wat diep in haar brein lê.
Die gewas groei vinnig en veroorsaak reeds ernstige komplikasies.
Dokters het vir Natanya meegedeel dat daar min opsies oor is, maar sy sê opgee is nie ‘n opsie nie.
“Ek het ‘n spesialis in Turkye gevind wat bereid is om Anuska te opereer. Die operasie is dringend, maar die koste beloop ongeveer R600 000,” het sy gesê.

Anuska is reeds in 2024 vir die eerste keer met ’n aggressiewe breingewas gediagnoseer.
Die gewas het vinnig gegroei en is enkele dae later tydens ‘n noodoperasie gedeeltelik verwyder. Ongelukkig kon die chirurge nie alles uitsny nie.
Na die operasie het sy bestraling en chemoterapie ontvang.
“Anuska is ‘n gr. 9-leerder by Hoërskool Pietersburg. Verlede jaar was vir haar ‘n groot en opwindende jaar. Sy het hoërskool toe gegaan sonder om ooit te kla.
Sy het Limpopo-hokkie gespeel en was deel van die o/14A-span. Sy is ‘n ongelooflik positiewe kind,” sê Natanya.
Die gewas het intussen oor Anuska se brein versprei. Sy slaap die meeste van die tyd en word byna heeltyd deur haar geliefde honde opgepas.
“Ons weet die pad ná die operasie gaan lank en uitdagend wees. Dit gaan nie altyd maklik wees nie, maar ons is as familie gereed vir wat ook al kom. Sy moet net weer Anuska wees,” het Natanya afgesluit.
Die familie het ‘n BackaBuddy-rekening van stapel gestuur. Indien dit vir jou moontlik is om by te dra, gaan besoek: https://www.backabuddy.co.za/campaign/anuska-deyzel




