Local News

Anuska (15) maak haar oë oop ná lewensreddende breinoperasie in Turkye

Ná ’n intense operasie om ’n hoëgraadse breingewas te verwyder, het die 15-jarige Anuska Deyzel haar oë vir die eerste keer op Woensdag oopgemaak - ’n emosionele en hoopvolle mylpaal vir haar familie.

POLOKWANE – Anuska Deyzel (15) is reeds vroeg Dinsdagoggend uit die intensiewesorgeenheid na ’n hoësorgeenheid oorgeplaas, slegs ure nadat sy ’n lewensreddende operasie ondergaan het om ’n gewas op haar brein te verwyder.

Anuska is vroeër vanjaar met ’n hoëgraadse, kwaadaardige breingewas – ’n anaplastiese talamiese oligodendroglioom (graad 3)- gediagnoseer. Die gewas, wat diep in haar brein geleë is, het vinnig gegroei en ernstige komplikasies veroorsaak. Volgens haar ma, Natanya, was daar min behandelingsopsies oor, maar om op te gee was nooit ’n opsie nie.

’n Geldinsamelingsveldtog is van stapel gestuur om die R600 000 wat vir behandeling oorsee benodig is, in te samel. Binne slegs ’n paar dae is die volle bedrag ingesamel, waarna reisreëlings na Turkye onmiddellik getref is.

Met haar aankoms in Turkye is Anuska direk hospitaal toe geneem waar uitgebreide toetse gedoen is. Natanya se suster, Monique van Geyn, hou familie en vriende in Suid-Afrika deurlopend op hoogte.

“Daar is baie toetse gedoen en ons is baie vrae gevra. Ons moes ’n volledige lys opstel van waar alles begin het en watter behandeling sy in Suid-Afrika ontvang het om aan die dokters te gee,” het Monique gesê.

Anuska is Maandag omstreeks 10:00 teater toe geneem. Ná die operasie het die dokter aan die familie verduidelik dat die gewas groter as verwag was en ook geskuif het. Volgens Monique is dit waarskynlik die rede waarom Anuska voor die operasie aanhoudend geslaap het en nie haar oë kon oopmaak nie.

Ongeveer drie ure later is sy na die waarnemingsaal geskuif waar sy noukeurig gemonitor is om te verseker dat bloeding onder beheer is. Dokters het bevestig dat die gewas uit die brein se eie selle ontstaan het en nie kanker is wat van elders in haar liggaam versprei het nie. Hierdie onderskeid tussen ’n primêre breingewas en ’n sekondêre gewas is belangrik om verdere behandeling te bepaal.

Teen laat Dinsdagmiddag het die familie laat weet dat dit goed gaan met Anuska. Woensdagoggend het sy vir die eerste keer ná die operasie haar oë oopgemaak – ’n oomblik van groot emosie en dankbaarheid.

“Die dokter herinner ons voortdurend dat sy deur ’n baie groot en intense operasie is en dat ons haar tyd moet gee om te herstel,” het Monique gesê.

Die dokters het aangedui dat Anuska tot en met die derde dag ná die operasie moet rus. Daarna sal mediese personeel begin om haar geleidelik te mobiliseer. ’n Opvolg-CT-skandering wat Woensdagoggend gedoen is, het uitslae getoon waarmee die dokters tevrede is.

“Ons moet baie met haar praat en vir haar musiek speel. Ons bly hoopvol, want ons weet watter ongelooflike sterk kind Anuska is,” het Monique bygevoeg.

Sy het ook die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning: “Julle gebede, liefde en omgee beteken vir ons meer as wat woorde ooit kan sê. Sonder dit sou vandag nie moontlik gewees het nie.”

Daar word moreoggend (Vrydag, 27 Februarie) tussen 05:30 en 06:30 ‘n gesamentlike gebedsuur vir Anuska gehou waartydens die gemeenskap vir God se genesende hand oor haar, wysheid vir die mediese personeel dat hulle die regte behandelingsplan vir haar sal opstel en ook vir haar familie wat saam met haar deur hierdie tyd gaan.

Daar waar jy Vrydagoggend jou dag begin dink aan hierdie familie en bid saam vir Anushka vir rustigheid en volkome genesing.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button