Begraafplaas in Mokopane in staat van verwaarlosing
Besoekers aan die Mokopane-begraafplaas kla oor kniehoogte gras, swak geriewe en risiko van brande, terwyl die munisipaliteit stadig reageer.
MOKOPANE – Besoekers aan die plaaslike begraafplaas is nie net teleurgesteld oor die toestand van die geriewe nie, maar ook boos dat die Mogalakwena Munisipaliteit nog geen poging aangewend het om die gras wat al kniehoogte staan, te sny nie.
Besoekers kla oor onverwaarloste gras en geriewe
“Ons kan nie by ons geliefdes se grafte uitkom nie, en die werkers by die begraafplaas wat onder die bome sit, trek net skouers op,” was van die kommentaar vandeesweek wat op sosiale media groepe geplaas is.
Elke jaar na die reënval skiet die gras die hoogte in en is die grafte skaars sigbaar.
Nog voor die munisipaliteit kan reageer breek daar dikwels ‘n brand uit en saai verwoesting.
Munisipaliteit en VF Plus se reaksie
VF Plus raadslid Elita Wiid het Mahlogonolo Ramoko van die Parkeraad gekontak.
“Al verduideliking wat ek tot dusver kon kry was dat daar net drie boskappers (bushcutters) is wat die dorp met Mahwelereng moet deel,” sê Wiid.
Bosveld het Ramoko gekontak vir ‘n plan van aksie, maar die munisipaliteit kon teen druktyd nog geen antwoorde verskaf nie.




