Anja se landboupassie groei tydens AgriHX Ekspo in Polokwane
Hoërskool Pietersburg-leerder se passie vir landbou kry nuwe inspirasie tydens die AgriHX Ekspo in Polokwane.
POLOKWANE – Wanneer ‘n kind teoretiese lesings prakties ervaar, onthou hulle die inhoud beter.
Daarom word die eerste dag van die jaarlikse AgriHX Ekspo gewy aan die jeug in die provinsie deur vir hulle interessante inligtingsessies aan te bied asook demonstrasies van dit wat in die landbou bedryf gebeur.
Polokwane Review het met Anja Smit, ‘n gr. 11-leerder aan Hoërskool Pietersburg, gesels oor wat hierdie ekspo vir haar as landbouleerder beteken het.
“Ek het ‘n groot liefde vir die plaas met die plante en diere en alles tussenin. Ek het vakansies by my oupa-hulle op die plaas gekuier en so te sê as plaaskind groot geword.”
Van plaaskind tot landbou-entoesias
Sy sê landbou as vak bevat teorie met praktiese voorbeelde en die geleentheid om dit wat hulle leer toe te pas.
Van die verskillende plante en diere tot hoe om die plaas te bestuur.
Alhoewel Anja baie lief is vir die plaas, beoog sy om ‘n remediërende onderwyser te word na skool.
So lank as wat dit op ‘n klein, plattelandse dorpie is, waar sy in haar vrye tyd haar liefde vir die boerdery kan uitleef.
Eerste ervaring by die AgriHX Ekspo
“Ek sal graag diere wil groot maak en plante aanplant en versorg.
“Vanjaar was die eerste keer wat ek by die AgriHX Ekspo was en al was dit baie kleiner as wat ek verwag het, was daar baie dinge wat ongelooflik interessant was.
“Die interessantste ding wat ek tee gekom het, was die verskillende sonarskanderings waarvan ek by een van die lesings gehoor het. Ek kon ook die toerusting so vlugtig sien.”
Die ekspo het nie Anja se idee van haar toekoms verander nie, en sy sê dit verskil nie regtig van dit wat sy in die klas leer nie.
Dit staaf wel wat sy leer en maak die prentjie duideliker.
Anja glo ook dat die ekspo haar wel gaan help met landbou as vak.
“Die deel van landbou wat ek die meeste van hou, is beslis nie die bestuur-afdeling nie.
“Ek kan nie kies tussen die plante en diere nie, maar weet dit is definitief nie die bestuur nie.”




