Rondloperkrokodille wek kommer in Mokopane
’n Motoris het glo oor ’n krokodil op die R101 naby Moorddrift gery, terwyl verskeie krokodille ná swaar reën in die Mokopane-omgewing gesien is.
MOKOPANE – Verskeie besigtigings van krokodille wat in die Mokopane-omgewing hul verskyning maak, wek kommer onder inwoners naby aan riviere en gebiede wat onlangs deur swaar reën geteister is.
Krokodil glo op R101 raakgery
In een so ‘n geval, het ‘n motoris oor ‘n krokodil op die R101 naby Moorddrift gery terwyl dit besig was om die pad oor te steek.

Plaaseienaars naby aan die Nylrivier het selfs op sosiale media gesê dat hulle groot getalle krokodille waargeneem het wat stroomaf in die rigting van die Mogalakwenarivier beweeg.
Munisipaliteit waarsku inwoners
Die Mogalakwena Munisipaliteit het inwoners wat naby aan die Mogalakwenarivier woon, gewaarsku om waaksaam te wees.
Mark Howitt van die Mokopane Biodiversity Conservation Centre sê die hoë watervlakke van damme en oorstroomde riviere wat deur swaar reën die afgelope paar jaar veroorsaak is, kan veroorsaak dat krokodille uit hul natuurlike habitat ontsnap.
“Krokodille en ander reptiele kan, as gevolg van hoë reenval, uit hulle gewone habitat ontsnap en dan naby kleiner waterstrome, paaie, brûe, plase en selfs residensiële gebiede waargeneem word.”
Nylkrokodille bly gevaarlik
Howitt voeg verder by dat die Nylkrokodil die grootste is van vier spesies wat in Afrika gevind word. Hulle is ook as beskermde spesies gelys en beklemtoon dat permitte nodig is om hulle aan te hou, mee te teel, te verkoop of te jag en om selfs sekere dele van die dier, soos tande, in besit te hê.
Die Nylkrokodil kan tot vyf meter of langer word, is sterk swemmers en kan tot 1 000kg weeg.
Volgens hom voed jong krokodille op insekte en vis terwyl volwasse krokodille diere soos sebras, bokke, wildebeeste en selfs buffels kan plattrek. Hy waarsku dat mense ook die gevaar loop om prooi te word.
Ouers en motoriste gemaan om versigtig te wees
Die munisipaliteit het ook beklemtoon dat ouers hulle kinders moet maan om nie naby riviere of vloedareas te speel nie, en dat motoriste waaksaam moet wees veral wanneer hulle laagwaterbrûe oorsteek.
Vissermanne is ook gewaarsku om eerder van die water af weg te bly veral wanneer sigbaarheid in die water laag is.




