Local News

Staan jou man teen boelies in die werkplek

Boeliegedrag in die werksplek is nie net ‘n teken van slegte kantoorkultuur nie, maar ook ‘n menseregte kwessie.

POLOKWANE – Sielkundige, Zelda Buitendag gesels oor boelies in die werkplek.

“Boeliegedrag is herhalende gedrag waar een persoon ‘n ander doelbewus verneder, intimideer of ondermyn. Dit kan verbaal, emosioneel, fisies en selfs elektronies wees.”

Tekens en gevolge van boeliegedrag in die werkplek

Sy verduidelik dat mense dikwels konstante kritiek van kollegas ervaar, uit vergaderings of ander byeenkomste uitgesluit word, of dat daar sarkastiese opmerkings gemaak word.

Daar is ‘n verskeidenheid tekens waarvan onverklaarbare stres een is. Zelda sê die slagoffer sal homself onttrek en ‘n lae moraal hê. Daar kan ook gereelde konflik wees.

Redes agter boeliegedrag en die impak op organisasies

“Die redes waarom mense boelie is legio. Mag, onsekerheid en swak leierskap is maar ‘n paar redes. ‘n Toksiese werkskultuur word geskep. Produktiwiteit in die maatskappy word minder en daar is dikwels ‘n hoër afwesigheid van werknemers en ‘n personeelomset.”

Hoe werkplekke boeliegedrag kan voorkom en bestuur

Zelda raai slagoffers aan om alles te dokumenteer en ondersteuning te soek. Dit moet ook gerapporteer word. “Boeliegedrag kan vermy word deur duidelike beleidsdokumente, opleiding en konsekwente optrede.”

Janika Pretorius* se ervaring in die werkplek

Vir Janika Pretorius*, is dit besig om haar persoonlike wêreld en gesondheid, nadelig te beïnvloed.

“Ek is ‘n paar jaar gelede in ‘n finansiële pos by ‘n bekende maatskappy aangestel. Die dag wat ek begin werk het, is daar vir my gesê daar is nie ‘n posbenaming vir my nie. Ek moes ‘n meer algemene posbeskrywing teken en dit was dié van ‘n toesighouerspos.”

Na twee weke het Pretorius steeds nie geweet wat die werk behels wat sy moes doen nie.

Onduidelike posbeskrywing en aanvanklike verwarring

Die bestuurder het glo vir haar die pos geskep en sy moes haar eie posbenaming skryf. Daar is ook vir haar gesê wanneer een van die ander vroue van verlof af terug kom, sal Pretorius van dié se werk oorneem.

Konflik oor take, skofte en bestuur se optrede

“Sy het teruggekom werk toe en toe daar niks gebeur rakende my take nie, het ek navraag gedoen. Die volgende dag was daar ‘n vergadering waar die menslikehulpbronbestuurder onder andere sê ek is onwillig om te leer. Ek is ook daarvan beskuldig dat ek onnodig moeilikheid maak.”

Daar is ook nuwe skofte ingebring, waarvan ek, as enkelouer, een nie sal kan werk nie. Die menslikehulpbronbestuurder het reguit vir my gesê dat dit nie haar probleem is nie.

“Dit was nie net ek wat ongelukkig was met die tye nie, maar aangesien ek die klagtebrief geskryf het, was ek weer in die moeilikheid.”

Aantygings, beskuldigings en eskalasie van spanning

Die bestuur het weer verander en die personeel het skielik agt mense gehad aan wie hulle moet rapporteer. Alhoewel Pretorius afgeboek is, is haar siekverlof nie goedgekeur nie.

“Ons mag nie net verlof vat nie, ons moet eers toestemming by al agt die bestuurslede kry, waar hulle dan sal besluit of ons verlof mag neem.”

Pretorius is daarvan beskuldig dat sy op verskeie areas nie haar werk doen nie, maar selfs met bewyse word sy verder beskuldig.

Sy gaan voort deur te sê sy is daarvan beskuldig dat sy met heksery besig is en sy kry gereeld opdragte wat sy nie by magte is om te doen nie. Verder word daar vir haar gesê sy en die ander administratiewe personeel is “breindood”.

Gesondheids- en emosionele impak op werknemer

“Behalwe dat ek tevergeefs al die probleem rapporteer het, kan die kollegas nie opstaan vir mekaar nie, uit vrees dat hulle ook gaan deurloop.”

Pretorius sê haar lewe is moeilik as gevolg van die boeliegedrag. Emosioneel is sy permanent in ‘n slegte bui wat sy onbewustelik op haar kinders uithaal. Sy is gediagnoseer met ‘n bloeiende maagseer en is permanent angstig.

“Elke keer as daar ‘n e-pos is, vrees ek dat dit iets negatief teenoor my gaan wees. Ek word selfs uitmekaargetrek en sleggemaak as daar ‘n kliënt vir my ‘n goeie woordjie doen. Ek word gereeld vertel dat ek vervangbaar is. Ek word sleggesê en die onsekerheid oor wanneer ek weer sleggesê gaan word, raak ondraaglik. Van die ander personeel word ook geboelie. Werk is skaars, so ek byt vir eers vas, maar dit kan nie aanhou nie.”

*Skuilnaam.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button