Gesin ongedeerd na vragmotor in parkeerarea inploeg
’n 8-jarige seun van Polokwane het met geringe beserings daarvan afgekom nadat hy tydens ’n ernstige botsing teen ’n paal vasgedruk is.

POLOKWANE – “’n Mens kan nie dink dat ’n paar sekondes so lank kan voel nie,” vertel René Maré nadat sy en haar gesin op Moedersdag in ’n ernstige ongeluk betrokke was.
Ongewone stop verander alles
Die jong Japie Junior Maré (8) het met slegs ’n effense skaafmerk en ’n blou kol daarvan afgekom nadat hy tussen ’n paal en sy ouers se motor vasgedruk was.
Volgens René was die gesin op pad om Moedersdag saam met familie te vier toe die voorval gebeur het.
“Ons hou nooit stil by hierdie spesifieke winkel nie, maar daardie dag het ons besluit om koeldrank en ys te koop. My man Japie en Japie Junior het winkel toe gegaan terwyl ek en ons dogter, Leané (10), in die motor gebly het,” vertel sy.

Leané het agter die bestuurderskant gesit, aan die kant waar die voertuig later getref sou word.
Pa sien botsing betyds
Pa en seun het teruggestap na die voertuig toe, toe Japie Junior ’n geluid soos ’n ambulanssirene hoor. Hy het vir sy pa gevra wat die geluid is, waarna Japie opgekyk het om te kyk wat aangaan.
“Ons dank ons Hemelse Vader dat hy bly kyk het, want toe sien hy die botsing gebeur. Hy kon gelukkig vinnig wegbeweeg toe die vragmotor op ons afkom,” vertel René.

Sy sê sy het harde geluide gehoor en toe sy opkyk, het sy ’n voertuig in die pad sien inskiet. “Die volgende oomblik sien ek die vragmotor op ons afkom. Ek was nie eers bewus van die bakkie langs ons nie, net van die vragmotor. Toe beleef ons die impak.”
‘Gaan ons lewendig hier uitkom?’
Sy sê daardie paar sekondes het soos ’n leeftyd gevoel.
“Gedagtes soos ‘gaan ons lewendig hier uitkom’ en ‘my kind is in die kar’ het deur my kop gegaan. Ek kon nie glo wat gebeur nie.” Japie sê hy het net “nee” gedink en het onmiddellik na die motor gehardloop toe dit tot stilstand kom.

René het Japie Junior gegryp en hom na veiligheid geneem, terwyl Japie Leané uit die motor gehaal het.
Die familie het daarna vinnig van die toneel af beweeg en familielede gekontak om die kinders te kom haal.
Japie Junior vertel van die skrikoomblik
Leané onthou net die harde slag. “Dit het soos ’n geweerskoot geklink,” sê sy.
Japie Junior sê hy het op pad was om die agterdeur oop te maak toe die botsing plaasgevind het. “Ek wou terughardloop winkel toe, maar toe druk die kar my teen die paal,” vertel hy.
Hy het slegs ligte beserings opgedoen, terwyl Leané en René met bloukolle weggestap het.
‘God se hand was oor ons’
René sê die familie glo hulle is deur genade beskerm.
’n 8-jarige seun van Polokwane het met geringe beserings daarvan afgekom nadat hy tydens ’n ernstige botsing teen ’n paal vasgedruk is. pic.twitter.com/KZHGsGmUyC
— Polokwane Observer (@PolokwaneObserv) May 18, 2026
“Nadat ons die video die volgende dag gesien het, was die paal nog reguit voor die ongeluk en daarna heeltemal gebuig. God se hand was oor ons,” het sy vertel.




