Moordbeskuldigde Johann de Vos sterf in motorongeluk
Johann de Vos, wat aangekla was van die moord op Johann Hattingh, is verlede week in ’n motorongeluk buite Mokopane dood.
MOKOPANE – Johann de Vos, wat aangekla was van die skietdood van Johann Hattingh op 13 Februarie verlede jaar, het verlede Woensdag in ‘n motorongeluk buite Mokopane omgekom.
Hattingh is in die vroeë oggendure doodgeskiet nadat hy die vorige aand saam met vriende uitgegaan het. Volgens ‘n bron na aan die ondersoek het Hattingh en De Vos vroeg die volgende oggend besluit om iets te gaan eet. Volgens inligting het verskeie skote afgegaan, waarna die voertuig kort daarna teen ‘n boom tot stilstand gekom het.
Polisie is na die toneel ontbied, waar Hattingh steeds in sy bakkie aangetref is.
Moordklag en borgtogverrigtinge het gevolg
De Vos is op 21 Maart ná ‘n polisieondersoek in hegtenis geneem. Hy is aanvanklik van manslag aangekla, maar die klag is later na moord (skedule ses) verander nadat hy na bewering ‘n vals verklaring oor ‘n kaping aan owerhede verskaf het.
De Vos het om borgtog aansoek gedoen, maar die hof het die saak herhaaldelik uitgestel weens voortgesette ondersoeke. Op 6 Junie het hy onskuldig gepleit, maar borgtog is geweier. Die landdros het bevind dat sy lewe moontlik in gevaar was en dat hy as ‘n vlugrisiko beskou kon word.
Hooggeregshofsaak sou op 1 Junie begin
In Oktober het De Vos weer op straat verskyn nadat hy na bewering borgtog toegestaan is. Die saak in die Polokwane Hooggeregshof was vir 1 Junie geskeduleer.
De Vos is egter verlede Woensdagmiddag oorlede in ‘n motorongeluk net buite Mokopane. Hy het op die toneel gesterf.




